Dis tog opmerklik hoe vinnig `n mens se emosies kan wissel en hoe vinnig gelowiges se geloof in ongeloof kan verander. Dit is ook interessant hoe Christene, soos tipiese trop diere, met oorgawe by die tydsgees en wêreldse manier van dienk, praat en doen kan inval.
By geleentheid het Jesus se dissipels teruggekom na `n baie suksesvolle uitreik-aksie. Dit was `n praktiese tyd om hulle vaardighede ten opsigte van die bediening te toets. Hulle emosies was so positief en hulle het groot sukses behaal deurdat selfs die duiwels hulle gehoorsaam het – groot sukses.
Jesus het egter baie verder gedink toe Hy die volgende woorde vir hulle gesê het. Was dit kouewater op hulle entoesiasme? `n Mens kan maar net wonder:
17 Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.” 18 Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val. 19 Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen. 20 En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.” (Lukas 10: 17-20 ANV)
“Maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is”, was Jesus se reaksie op hulle getuienisse, gebabbel en borrelende entoesiasme.
Op `n meer negatiewe noot, dink ek oor die wêreld se reaksie op die Covit-19 virus. Wanneer `n tipe van `n Goliat skielik sy opwagting maak, vergeet Christene selfs dat Jesus hierdie woorde ook bedoel het vir negatiewe situasies. Alle “suksesse”, Skrif, uitreik-aksies en hulle wandel met Jesus is vergete.
Wat was die eerste gedagtes toe ons van Corona gehoor het? Hoe het ons gedagtes, woorde en optrede verander soos wat meer inligting bekend geword het? Die fokus was nogal dat toiletpapier in Australië skaars geraak het, dus gaan dit hier ook gebeur. Laer-trek, dit is wat gedoen moet word. Elkeen veg vir sy eie trollie vol toiletpapier, Tuna en ander blikkieskos, gevriesde vleis en groente. Hoe meer geld daar is, hoe meer gaar die persone op – nét vir hulself. Selfsug en eie oorlewing sit vlak onder die goed verniste oppervlakte van die meeste mense.
Wanneer Goliat sy geluide maak, verdwyn die mite van onsterflikheid soos mis voor die son. “Ek kan doodgaan! Ek kan werklik doodgaan! Nou moet ek opgaar want miskien moet ek lank vir die dood weghardloop”.
Indien ek en jy paniekerig gevoel het, is dit nie iets om oor sleg te voel nie, nee, ons moet mekaar net help om weer op dit wat die ewige waarde het, te fokus.
Op grond van die reaksies het vrae in my hart ontstaan: Hoe sterk glo gelowiges regtig dat hulle name in die hemel opgeskryf is? Hoeveel daarvan verstaan ons? Hoeveel daarvan is `n absolute werklikheid? Baie goed laat ons praat en maak ons opgewonde, soos: vol kerkgeboue, vol stadions, massas wat op plase saamtrek, skielike gebedsaksies (teenoor lewenswyses van gebed), baie mense wat sê dat hulle bid, maar hoeveel regtig bid sal ons nooit weet nie, en so kan ons die lysie aanvul.
Covit-19 skud nie net die gesondheidsdienste en paraatheid nie, dit skud en roer aan die geloofslewe van mense. Die Goliat praat harder as die Woorde van Jesus. Dit skud aan die onderbewuste geloof dat dit nie met my sal gebeur nie, want eintlik is ek onsterflik. Dit vra die vraag of ons werklik in `n nuwe hemel en nuwe aarde glo. Dit laat mens wonder hoekom mense ten alle koste op hierdie aarde wil oorleef. `n Mens wonder hoekom mense so veg vir hulle, sogenaamde, regte.
Persoonlik, is ek oortuig dat Christene vol Bybeltekste is en aanstuur, maar dat min daarvan sigbaar is en min daarvan deel van die fondament van ons lewens is.
Vir eers moet ons stop en diep dink. Wie is ek en aan wie behoort ek?
Met die tik van hierdie vrae, het ek skielik my pa voor gesien. Hy het probeer om ons klompie jongmense toe te rus in die katkisasieklas. Ek hoor hoe vra hy: Wat staan in Sondag een van die Heidelbergse kategismus? Dit is toe dat ons in ons boeke blaai, want niemand het geweet nie. Ons lees toe:
Sondag 1 – Jou enigste troos.
Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar (f) my op so ’n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h).Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe (i) en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).
(a) Rom 14:8. (b) 1 Kor 6:19. (c) 1 Kor 3:22; Tit 2:14: (d) 1 Pet 1:18, 19; 1 Joh 1:7; 2:2, 12. (e) Heb 2:14; 1 Joh 3:8; Joh 8:34-36. (f) Joh 6:39; 10:28; 2 Tess 3:3; 1 Pet 1:5. (g) Matt 10:30; Luk 21:18. (h) Rom 8:28. (i) 2 Kor 1:22; 5:5; Ef 1:14; Rom 8:16. (k) Rom 8:14;1 Joh 3:3.
Word eers weer stil en hoor Jesus se woorde: “Maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is”. (Sela)
