COVIT-19 kom sit in jou kop

Maandag 23 Maart 2020

COVIT-19 kom sit in die longe, sê hulle. Op die oomblik maak dit in my kop nes. Dit slaan sy kloue in elke sel van die brein in en die neem alle gedagtes gevange. Dit is waar die stryd dikwels die moeilikste is. Wel, vir my is dit so.

In die nag as ek slaap, dryf die gedagtes rond. As ek wakker is, los dit my nie uit nie. Skakel ek die televisie aan, skiet my vinger uit na die kanaal waarop ek nog nuus kan kry. Die kanale bombardeer my en teiken die bewuste sowel as die onderbewuste. Daar is nie `n oomblik rus nie.

Daar is nie rus nie totdat ek besluit het om weer terug te keer na die Rus in my. Ek het gaan sit en weer my lewe en gedagtes aan die Here oorgegee. Dit is mos Augustinus wat gesê het: “Ek vind net rus wanneer ek rus vind in U”.   Is dit maklik? Nee, verseker is dit nie maklik nie. Dit is nie iets wat op die oomblik sommer net wil weggaan nie. Dit klou soos `n doring in die vlees, dis pynlik.

Wat van die ekonomie? Hoe gaan ons oorleef? Dit is werklike vrae en vraagstukke met moeilike antwoorde. Op die oomblik wil my hart sê dat ons die Here moet vertrou. My verstand sê dat ons maar moet wag en kyk. Ek moet erken dat die eerste keuse my meer rus gee.

Vandat ek my verstand het, het ons in geloof geleef. Hoekom sal dit nou anders wees? My ouers moes die Here vertrou. Sedert ek die onderwys in 1990 bedank het, het ek op `n “rollercoaster ride” beland waarvoor ek nie begroot het nie. Tussen daardie tyd wat ons in Stellenbosch gewoon het en nou hier in Centurion het die lewe van vertrou en leef in geloof my ingesuig tot op `n punt waar ek besef dat gesonde verstand my nie hier gebring het nie. As ek nie nou glo nie, sal my verstand en ongeloof my absoluut mal maak.

Om hierdie rede kan ek nie toelaat dat die omstandighede in my gedagtes nes maak nie. Dit is dan dat die radeloosheid en redeloosheid inwerking tree. “Here, ek neem nou elke gedagte in die Naam van Jesus gevange en ek onderwerp dit aan U”. So begin ek bid.

Ek gaan verder: “Here, hierdie hele situasie is buite my beheer. Ek weet nie wat om omtrent Covit-19, my eie gesondheid, dié van my gesin, familie, vriende en sommer die hele wêreld te doen nie. Ek weet ook nie wat om aan my finansies en lewensomstandighede te doen nie. Ek bid nou dat U Gees deur my sal bid”…. Op daardie oomblik begin ek bid in die taal wat ek ontvang het toe ek 17 jaar oud was. Ek het op my knieë gestaan tydens `n biduur vir Jode en Israel. Ek bid sonder om `n woord te verstaan. Ek bid met die geloof dat dit wel die Gees van God is wat nou bid wat op Vader se hart is soos in Romeine 8:26-27. Ek bid en sien Jesus voor die troon van Vader waar Hy vir my intree.

“Here, ek verstaan nie, maar ek vertrou U, bid ek aan die einde van hierdie gebed.

Hierna gaan sit ek vir ongeveer 20 minute net doodstil. Ek probeer om aan niks te dink nie. Wanneer my gedagtes begin dwaal, sê ek net: “Jesus, bid vir my”. Ek sien Hom dan in my gedagtes hoe Hy vir my bid. Ek sit dan net weer – gedagteloos tot die gedagtes my weer steur, dan weer “Jesus, bid vir my” en dan sit ek weer. Dit is die gebed van die Heilige Gees, die gebed van genesing.

Hierna sit ek `n oomblik: “Here, nou gee ek my lewe en gedagtes opnuut vir U. Neem besit van my hele lewe, o Gees van God. Dankie dat ek na U toe kan vlug en dat u altyd daar is vir my, Amen!”

Daar is nou rus wat alle verstand te bowe gaan, want die ding sit nie meer so vas in my kop nie.

[yikes-mailchimp form=”1″]

Julle name is in die hemel, maar Covit-19

Dis tog opmerklik hoe vinnig `n mens se emosies kan wissel en hoe vinnig gelowiges se geloof in ongeloof kan verander. Dit is ook interessant hoe Christene, soos tipiese trop diere, met oorgawe by die tydsgees en wêreldse manier van dienk, praat en doen kan inval.

By geleentheid het Jesus se dissipels teruggekom na `n baie suksesvolle uitreik-aksie. Dit was `n praktiese tyd om hulle vaardighede ten opsigte van die bediening te toets.  Hulle emosies was so positief en hulle het groot sukses behaal deurdat selfs die duiwels hulle gehoorsaam het – groot sukses.

Jesus het egter baie verder gedink toe Hy die volgende woorde vir hulle gesê het. Was dit kouewater op hulle entoesiasme? `n Mens kan maar net wonder:

17 Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.” 18  Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val. 19  Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen. 20  En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.” (Lukas 10: 17-20 ANV)

“Maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is”, was Jesus se reaksie op hulle getuienisse,  gebabbel en borrelende entoesiasme.

Op `n meer negatiewe noot, dink ek oor die wêreld se reaksie op die Covit-19 virus. Wanneer `n tipe van `n Goliat skielik sy opwagting maak, vergeet Christene selfs dat Jesus hierdie woorde ook bedoel het vir negatiewe situasies. Alle “suksesse”, Skrif, uitreik-aksies en hulle wandel met Jesus is vergete.

 Wat was die eerste gedagtes toe ons van Corona gehoor het? Hoe het ons gedagtes, woorde en optrede verander soos wat meer inligting bekend geword het? Die fokus was nogal dat toiletpapier in Australië skaars geraak het, dus gaan dit hier ook gebeur. Laer-trek, dit is wat gedoen moet word. Elkeen veg vir sy eie trollie vol toiletpapier, Tuna en ander blikkieskos, gevriesde vleis en groente. Hoe meer geld daar is, hoe meer gaar die persone op – nét vir hulself. Selfsug en eie oorlewing sit vlak onder die goed verniste oppervlakte van die meeste mense.

Wanneer Goliat sy geluide maak, verdwyn die mite van onsterflikheid soos mis voor die son. “Ek kan doodgaan! Ek kan werklik doodgaan! Nou moet ek opgaar want miskien moet ek lank vir die dood weghardloop”.

Indien ek en jy paniekerig gevoel het, is dit nie iets om oor sleg te voel nie, nee, ons moet mekaar net help om weer op dit wat die ewige waarde het, te fokus.

Op grond van die reaksies het vrae in my hart ontstaan: Hoe sterk glo gelowiges regtig dat hulle name in die hemel opgeskryf is? Hoeveel daarvan verstaan ons? Hoeveel daarvan is `n absolute werklikheid? Baie goed laat ons praat en maak ons opgewonde, soos: vol kerkgeboue, vol stadions, massas wat op plase saamtrek, skielike gebedsaksies (teenoor lewenswyses van gebed), baie mense wat sê dat hulle bid, maar hoeveel regtig bid sal ons nooit weet nie, en so kan ons die lysie aanvul.

Covit-19 skud nie net die gesondheidsdienste en paraatheid nie, dit skud en roer aan die geloofslewe van mense. Die Goliat praat harder as die Woorde van Jesus. Dit skud aan die onderbewuste geloof dat dit nie met my sal gebeur nie, want eintlik is ek onsterflik. Dit vra die vraag of ons werklik in `n nuwe hemel en nuwe aarde glo. Dit laat mens wonder hoekom mense ten alle koste op hierdie aarde wil oorleef. `n Mens wonder hoekom mense so veg vir hulle, sogenaamde, regte.

Persoonlik, is ek oortuig dat Christene vol Bybeltekste is en aanstuur, maar dat min daarvan sigbaar is en min daarvan deel van die fondament van ons lewens is.

Vir eers moet ons stop en diep dink. Wie is ek en aan wie behoort ek?

Met die tik van hierdie vrae, het ek skielik my pa voor gesien. Hy het probeer om ons klompie jongmense toe te rus in die katkisasieklas. Ek hoor hoe vra hy: Wat staan in Sondag een van die Heidelbergse kategismus? Dit is toe dat ons in ons boeke blaai, want niemand het geweet nie. Ons lees toe:

Sondag 1 – Jou enigste troos.

Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar (f) my op so ’n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h).Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe (i) en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).

(a) Rom 14:8. (b) 1 Kor 6:19. (c) 1 Kor 3:22;  Tit 2:14: (d) 1 Pet 1:18, 19;  1 Joh 1:7;  2:2, 12. (e) Heb 2:14;  1 Joh 3:8;  Joh 8:34-36. (f) Joh 6:39;  10:28;  2 Tess 3:3;  1 Pet 1:5. (g) Matt 10:30;  Luk 21:18. (h) Rom 8:28. (i) 2 Kor 1:22;  5:5;  Ef 1:14;  Rom 8:16. (k) Rom 8:14;1  Joh 3:3.

Word eers weer stil en hoor Jesus se woorde: “Maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is”. (Sela)

Mense maak die lewe makliker?

Mense is op aarde geplaas om die lewe vir mekaar makliker te maak. Ja, ek weet dat ek liggelowig klink. Ek glo egter met my hele hart dat dit die doel van die mens is.

Is dit egter so? Die mens moes mekaar en die aarde oppas. Nou het die samelewing ontaard. Die samelewing of mensdom het ietwat koers verloor. Die mensdom loop soos zombies en wrakke in kermis kostuums en maskers met glimlagte rond terwyl  mense en die aarde besig is om onder gierigheid, onverdraagsaamheid en mishandeling in te gee.

Ai, hoe sinies klink ek nou! Maak mense dit regtig vir mekaar en vir die aarde `n gemakliker “journey” hier benede? Die vraag uit `n ander hoek is seker of mense mekaar veilig laat voel en omgee vir mekaar.

Voel ek veilig in ander mense se teenwoordigheid? Vra jy my? Dit hang af wie by my is. In sommige geselskappe slaan ek toe soos wat ek `n boek toemaak nadat ek dit klaar gelees het – ek maak dit toe om weg te pak, doodstil op die rak. So toe slaan ek -geliasseer stil. Ek lyk dan skielik soos die diepste introvert. Ek neig om `n introvert te wees, maar die mense wat my toets, sê ek is `n grensgeval. Anders is ek gemoedelik en stel myself soms onnodig bloot met my eerlikheid oor myself.

Of mense nou introverte of ekstroverte is, almal dra een of ander masker wat baie selektief verwyder word. O, nee, ek is `n oop persoon, kap jy terug. Toegegee, jy mag wees, maar die lewe en die mense binne die lewe veroorsaak dat elkeen van ons by omstandighede aanpas. Ons is baie selektief “oop” en het baie en wye grense, dink ek!?

Die punt is dat ons nie kan waag om rou eerlik en oop te wees nie. Ons kan nie waag om vir ander te wys dat daar seer, vrese of onsekerheid is nie. Die gierige mense wat op ander teer, sal onmiddellik daardie “swakheid” uitbuit, `n bespotting maak en verder misbruik.  Is dit wat van die mens geword het? Dis ongelukkig so, meen ek.

Ek dink ook dat elke mens tog iewers `n seerplekkie in die innerlike opgedoen het. Sommige se seerplekke is diep en seer en dalk nog steeds gevoelig. Ander is slegs deur `n ligte skermutseling met die lewe. Soms wil iemand uitskree en die pyn net met ander deel. Help, die las moet net ligter word, wil hulle skree. Dit gebeur nie, want vandag se kultuur verskaf al die middele en stukkies gereedskap wat ons nodig het om innerlike pyn te vermy omdat dit nie veilig is om uit te skree of saggies uit te kreun nie.

Nou gebruik die mense ander middele: Dink maar aan die gillende mense op sport paviljoene, seks – soms bisar, verdowingsmiddels, alkohol en alle ander tipes vermaak. Vir daardie oomblik is die pyn verder buite sig geskuif en probeer elkeen die “dwelm” wat voor hulle is met alles in hulle vermoë “inneem”. Lekker, tot die oomblik verby is. Dan weer maskers op, op die telling van drie. Herhaal al die motiverings mantras en daar gaan die mens al huilende agter masker met die lewe aan. 

Nou wat kan `n mens doen? Vir my werk dit om te skryf en te bid. Ek skryf rou, eerlik hoe ek voel. Ek lees dit dan hardop vir myself sodat ek dit kan hoor. Ek sê dit dan vir die Here. Ek weet nie altyd wat om verder daarmee te doen nie, maar ek laat woorde vorm rondom die seer van die verlede of hede, onsekerheid, angstigheid of wat die geval mag wees. Ek skryf, lees hardop, bid en probeer net afgee.

Afgee is nie maklik nie. Henry Nouwen skryf in sy boekie: “Open hands” dat mense so baie “verlede-dinge” in hulle hande toehou sodat die kneukels wit wys. Dit is soos mense wat krampagtig aan hul laaste geld stukkie of edelsteen sal vasklou. So klou ons aan seer, verwerping, kwaad en wrokke en soveel meer vas. Sό, sê hy, kan mens nie bid nie. Die hande moet begin oopgaan en dit wat vasgehou word, moet uit. Die mens kan dit egter nie self wegneem nie. Al wat ons kan doen, is om ons hande stadig oop te maak en te vra dat die Here dit wat ons so vasklou te neem. So, met verloop van tyd, sal die hande oopgaan en kan ons met oop hande bid. Ja, sal ons selfs ons hande na bo kan optel en begin loof en prys. Die letsel mag dalk nog wys, maar die pyn is weg. Die herinneringe sal bly, maar die seer sal Hy verlig.

Op stuk van sake glo ek steeds dat mense op aarde geplaas is om die lewe vir mekaar draagliker te maak. Om saam te “journey” – hand aan hand.

Eintlik wens ek dat elkeen van ons iewers veilige plekkies, tye en persone sal kry by wie ons veilig kan wees. Mense by wie ons maskers sal kan afhaal sonder dat hulle geskok sal wees όf ons sal spot of verwerp.

Mag jy die persone vind wat met onvoorwaardelike liefde en aanvaarding die lewe vir jou makliker sal maak hier op aarde – hand aan hand saam sal stap, ongeag die omstandighede.

Mense maak tog die lewe makliker.