Covit -19 het my privaatheid gesteel

 

My siel het “me-time” nodig, wil ek uitskree!

My menswees het “me-time” nodig.

Sosiale media is totaal oorlaai. Daar is liggaamlik dalk sosiale afstand, maar op sosiale media is almal in almal se gesigte en “spacebubbles” ingevleg.

  • Mense het nie die vermoë om hulle afstand te behou nie.
  • Mense het net nie die vermoë om stil te bly nie.
  • Mense het nie die vermoë om stil te word nie.

Dit is seker een van die mees frustrerende tye van my lewe. Mense is verveeld en vriende en familie ontgeld dit. Nee, die wêreld ontgeld dit!

Boodskappe versprei baie vinniger as die Corana-virus en mense gryp na grashalms en vergeestelik alles wat hulle kan kry. Ek is nie so seker dat God in al hierdie boodskappe en video’s `n aandeel het nie. Dit het die punt bereik dat ek meer op my knieë staan om my negatiewe gesindheid te bely as wat ek koppies koffie as troos drink.

Die ander bedrywigheid is dat mense die een video, met een of ander geestelike tema, na die ander kyk en dit dan nog aanstuur. Verder maak elkeen wat toegang tot `n “smartphone” het opnames en versprei hulle eie Coroana-teologie en menings.

Hoeveel kennis wil Christene nog bykry sonder om dit wat hulle leer eers toe te pas op hulle lewe? As ons maar net kleiner deeltjies wil neem en dit toepas en die massas preke en boodskappies eers los. Dis nou die ideale tyd om minder in te neem en meer in te oefen.

Mense weet nie wat stil-word is nie. Wat mense ook nie besef nie, is dat die lewe nooit weer dieselfde gaan wees nie. Ons sal nie weer gewoon soos in die verlede voortleef nie. Die gewoontes wat nou aangeleer word, gaan bly. Behoede my as die nuwe sosiale-media gewoontes gaan bly. Ongelukkig gaan dit wat nou aangeleer word, bly. Dit is nou as die sielkunde reg is. In 21 dae word dit wat jy aanhoudend doen `n gewoonte. `n Gewoonte, as ek reg verstaan, word nie net weggegooi nie, dit word met `n ander gewoonte vervang. Dit is die rede waarom mense die drang het om ook nog steeds in die strate rond te lê. Hulle was όf besig soos bye όf op straat.  Indien mense nie in die strate kan rondlê nie, loop hulle op sosiale media rond. Gewoontes manifesteer nou maar net op ander maniere.

Wat ons ook nie altyd besef nie, is dat die maatreëls wat regerings nou instel nie sommer verslap gaan word nie. Alles gaan nie sommer oornag terugkeer na “default” nie, indien ooit. Mense se privaatheid gaan minder en minder word. Regerings hou van mag en sal aan soveel maatreëls as moontlik wil vashou. Raak gewoond daaraan en skep vir jou privaatheid en privaat tye.

Waar het alles verlore gegaan?

Waar het die rus en vrede van die sewende skeppingsdag verdwyn? Is dit nie dalk omdat ons nie meer weet wat die “rus van die Here” is nie? Het Hy nie die sewende dag geskep en het ons toe nie die badwater met baba en al by die deur uitgegooi nie? Dit is mos Joodse teologie, hoor ek. Nee, ons het die ritmes van God se genade nie eerbiedig nie. Ons het die Olam Nawtheeb (Hebreeus) of ewige paaie van Jeremia 6:16 nie eerbiedig nie. Wat nou?

Dit is nou wonderlike tye om uit te roep:

  • “Stop!”
  • Herbesin oor jou lewe
  • Herverbind jou aan die Here en sy manier van lewe
  • Leer hierdie ou, Bybelse gewoontes weer aan – Die ritmes van genade wat God geskep het – en julle sal rus vind vir julle siele. Amper iets soos Matteus 11:28-30, dink ek.

Ek pleit dat hierdie huidige vloedgolf van sosiale media vergrype en tendense nie `n gewoonte sal word nie.

Leer aan om tot 10 te tel voordat die ou vingertjie `n boodskap stuur.

Dit is nou tyd om:

  • Jou waardes te besoek. Wat is werklik belangrik in die lewe?
  • As Christen, te besin oor jou verhouding met die Here. Waar pas Hy in jou lewe in? Dit gegewe dit feit dat ons Hom dalk in hierdie tyd kan ontmoet as jy en ek dalk deel van die hartseer statistieke word. Is ek en jy regtig so onsterflik? Ek dink nie so nie.
  • Jou siel, gees en liggaam te “detox” van die lewenswyse van die wêreld.
  • Te besin oor wat goeie gewoontes is
  • Te besin oor waarmee jy jou in jou kort lewentjie besig hou
  • Te dink hoe jy in `n kleingroep jou geloof gaan beoefen. Ek twyfel sterk of “kerk” soos mense dit geken het weer sal plaasvind. Hiermee bedoel ek dat honderde en duisende langs mekaar sal sit en mekaar se asems opsnuif. Ek dink nie so nie.

Less is better, het ek eens in die onderwys geleer. Los vir `n tydperk die massas video’s en sosiale media en besin oor die volgende.

  • Beplan bepaalde tye van stil-word. Die Bybelse ure van gebed gedurende die dag was 09:00, 12:00 en 15:00
  • Neem `n kort Skrifgedeelte – “Less is better”
  • Bid dat die Heilige Gees, die Gees van die Waarheid, jou sal lei, wysheid en insig gee.
  • Lees dit drie-maal stadig deur
  • Watter frases of woorde tref jou – herhaal die frases en woorde
  • Bepeins dit oor wat dit regtig vir jou beteken
  • Hoe jy dit gaan toepas in jou lewe?
  • Hoe gaan dit jou hele lewe verander?
  • Skryf dit oor as `n gebed
  • Memoriseer die Skrifgedeelte en hou aan om daaroor te peins deur die loop van die dag.

Hoe kan jy jouself nou reeds voorberei indien die lewe nie sal terugkeer na dit waaraan jy gewoond was nie? Ek is oortuig jy gaan my eendag bedank dat ek hierdie vraag gevra het.

Mag ons “me-time” terug kry en mag sosiale afstand fisies en digitaal gerespekteer word.

COVIT-19 kom sit in jou kop

Maandag 23 Maart 2020

COVIT-19 kom sit in die longe, sê hulle. Op die oomblik maak dit in my kop nes. Dit slaan sy kloue in elke sel van die brein in en die neem alle gedagtes gevange. Dit is waar die stryd dikwels die moeilikste is. Wel, vir my is dit so.

In die nag as ek slaap, dryf die gedagtes rond. As ek wakker is, los dit my nie uit nie. Skakel ek die televisie aan, skiet my vinger uit na die kanaal waarop ek nog nuus kan kry. Die kanale bombardeer my en teiken die bewuste sowel as die onderbewuste. Daar is nie `n oomblik rus nie.

Daar is nie rus nie totdat ek besluit het om weer terug te keer na die Rus in my. Ek het gaan sit en weer my lewe en gedagtes aan die Here oorgegee. Dit is mos Augustinus wat gesê het: “Ek vind net rus wanneer ek rus vind in U”.   Is dit maklik? Nee, verseker is dit nie maklik nie. Dit is nie iets wat op die oomblik sommer net wil weggaan nie. Dit klou soos `n doring in die vlees, dis pynlik.

Wat van die ekonomie? Hoe gaan ons oorleef? Dit is werklike vrae en vraagstukke met moeilike antwoorde. Op die oomblik wil my hart sê dat ons die Here moet vertrou. My verstand sê dat ons maar moet wag en kyk. Ek moet erken dat die eerste keuse my meer rus gee.

Vandat ek my verstand het, het ons in geloof geleef. Hoekom sal dit nou anders wees? My ouers moes die Here vertrou. Sedert ek die onderwys in 1990 bedank het, het ek op `n “rollercoaster ride” beland waarvoor ek nie begroot het nie. Tussen daardie tyd wat ons in Stellenbosch gewoon het en nou hier in Centurion het die lewe van vertrou en leef in geloof my ingesuig tot op `n punt waar ek besef dat gesonde verstand my nie hier gebring het nie. As ek nie nou glo nie, sal my verstand en ongeloof my absoluut mal maak.

Om hierdie rede kan ek nie toelaat dat die omstandighede in my gedagtes nes maak nie. Dit is dan dat die radeloosheid en redeloosheid inwerking tree. “Here, ek neem nou elke gedagte in die Naam van Jesus gevange en ek onderwerp dit aan U”. So begin ek bid.

Ek gaan verder: “Here, hierdie hele situasie is buite my beheer. Ek weet nie wat om omtrent Covit-19, my eie gesondheid, dié van my gesin, familie, vriende en sommer die hele wêreld te doen nie. Ek weet ook nie wat om aan my finansies en lewensomstandighede te doen nie. Ek bid nou dat U Gees deur my sal bid”…. Op daardie oomblik begin ek bid in die taal wat ek ontvang het toe ek 17 jaar oud was. Ek het op my knieë gestaan tydens `n biduur vir Jode en Israel. Ek bid sonder om `n woord te verstaan. Ek bid met die geloof dat dit wel die Gees van God is wat nou bid wat op Vader se hart is soos in Romeine 8:26-27. Ek bid en sien Jesus voor die troon van Vader waar Hy vir my intree.

“Here, ek verstaan nie, maar ek vertrou U, bid ek aan die einde van hierdie gebed.

Hierna gaan sit ek vir ongeveer 20 minute net doodstil. Ek probeer om aan niks te dink nie. Wanneer my gedagtes begin dwaal, sê ek net: “Jesus, bid vir my”. Ek sien Hom dan in my gedagtes hoe Hy vir my bid. Ek sit dan net weer – gedagteloos tot die gedagtes my weer steur, dan weer “Jesus, bid vir my” en dan sit ek weer. Dit is die gebed van die Heilige Gees, die gebed van genesing.

Hierna sit ek `n oomblik: “Here, nou gee ek my lewe en gedagtes opnuut vir U. Neem besit van my hele lewe, o Gees van God. Dankie dat ek na U toe kan vlug en dat u altyd daar is vir my, Amen!”

Daar is nou rus wat alle verstand te bowe gaan, want die ding sit nie meer so vas in my kop nie.

[yikes-mailchimp form=”1″]

Julle name is in die hemel, maar Covit-19

Dis tog opmerklik hoe vinnig `n mens se emosies kan wissel en hoe vinnig gelowiges se geloof in ongeloof kan verander. Dit is ook interessant hoe Christene, soos tipiese trop diere, met oorgawe by die tydsgees en wêreldse manier van dienk, praat en doen kan inval.

By geleentheid het Jesus se dissipels teruggekom na `n baie suksesvolle uitreik-aksie. Dit was `n praktiese tyd om hulle vaardighede ten opsigte van die bediening te toets.  Hulle emosies was so positief en hulle het groot sukses behaal deurdat selfs die duiwels hulle gehoorsaam het – groot sukses.

Jesus het egter baie verder gedink toe Hy die volgende woorde vir hulle gesê het. Was dit kouewater op hulle entoesiasme? `n Mens kan maar net wonder:

17 Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.” 18  Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val. 19  Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen. 20  En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.” (Lukas 10: 17-20 ANV)

“Maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is”, was Jesus se reaksie op hulle getuienisse,  gebabbel en borrelende entoesiasme.

Op `n meer negatiewe noot, dink ek oor die wêreld se reaksie op die Covit-19 virus. Wanneer `n tipe van `n Goliat skielik sy opwagting maak, vergeet Christene selfs dat Jesus hierdie woorde ook bedoel het vir negatiewe situasies. Alle “suksesse”, Skrif, uitreik-aksies en hulle wandel met Jesus is vergete.

 Wat was die eerste gedagtes toe ons van Corona gehoor het? Hoe het ons gedagtes, woorde en optrede verander soos wat meer inligting bekend geword het? Die fokus was nogal dat toiletpapier in Australië skaars geraak het, dus gaan dit hier ook gebeur. Laer-trek, dit is wat gedoen moet word. Elkeen veg vir sy eie trollie vol toiletpapier, Tuna en ander blikkieskos, gevriesde vleis en groente. Hoe meer geld daar is, hoe meer gaar die persone op – nét vir hulself. Selfsug en eie oorlewing sit vlak onder die goed verniste oppervlakte van die meeste mense.

Wanneer Goliat sy geluide maak, verdwyn die mite van onsterflikheid soos mis voor die son. “Ek kan doodgaan! Ek kan werklik doodgaan! Nou moet ek opgaar want miskien moet ek lank vir die dood weghardloop”.

Indien ek en jy paniekerig gevoel het, is dit nie iets om oor sleg te voel nie, nee, ons moet mekaar net help om weer op dit wat die ewige waarde het, te fokus.

Op grond van die reaksies het vrae in my hart ontstaan: Hoe sterk glo gelowiges regtig dat hulle name in die hemel opgeskryf is? Hoeveel daarvan verstaan ons? Hoeveel daarvan is `n absolute werklikheid? Baie goed laat ons praat en maak ons opgewonde, soos: vol kerkgeboue, vol stadions, massas wat op plase saamtrek, skielike gebedsaksies (teenoor lewenswyses van gebed), baie mense wat sê dat hulle bid, maar hoeveel regtig bid sal ons nooit weet nie, en so kan ons die lysie aanvul.

Covit-19 skud nie net die gesondheidsdienste en paraatheid nie, dit skud en roer aan die geloofslewe van mense. Die Goliat praat harder as die Woorde van Jesus. Dit skud aan die onderbewuste geloof dat dit nie met my sal gebeur nie, want eintlik is ek onsterflik. Dit vra die vraag of ons werklik in `n nuwe hemel en nuwe aarde glo. Dit laat mens wonder hoekom mense ten alle koste op hierdie aarde wil oorleef. `n Mens wonder hoekom mense so veg vir hulle, sogenaamde, regte.

Persoonlik, is ek oortuig dat Christene vol Bybeltekste is en aanstuur, maar dat min daarvan sigbaar is en min daarvan deel van die fondament van ons lewens is.

Vir eers moet ons stop en diep dink. Wie is ek en aan wie behoort ek?

Met die tik van hierdie vrae, het ek skielik my pa voor gesien. Hy het probeer om ons klompie jongmense toe te rus in die katkisasieklas. Ek hoor hoe vra hy: Wat staan in Sondag een van die Heidelbergse kategismus? Dit is toe dat ons in ons boeke blaai, want niemand het geweet nie. Ons lees toe:

Sondag 1 – Jou enigste troos.

Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar (f) my op so ’n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h).Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe (i) en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).

(a) Rom 14:8. (b) 1 Kor 6:19. (c) 1 Kor 3:22;  Tit 2:14: (d) 1 Pet 1:18, 19;  1 Joh 1:7;  2:2, 12. (e) Heb 2:14;  1 Joh 3:8;  Joh 8:34-36. (f) Joh 6:39;  10:28;  2 Tess 3:3;  1 Pet 1:5. (g) Matt 10:30;  Luk 21:18. (h) Rom 8:28. (i) 2 Kor 1:22;  5:5;  Ef 1:14;  Rom 8:16. (k) Rom 8:14;1  Joh 3:3.

Word eers weer stil en hoor Jesus se woorde: “Maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is”. (Sela)