Kort biografie
Opgesom
Kortliks was hy tot en met die aanvang van die Covid-19 pandemie ‘n Predikant, Publieke spreker, Prediker, Lewensafrigter, Gospelsanger, Aanbiddingsleier, Aanbieder van Retreats (Gebed, genesing, huwelike) Hy het ook baie weke van gebed, Pinkster byeenkomste en verskeie seminare en kampe aangebied en as spreker opgetree. Hy het ook aanlyn bedien en Bybel kursusse aangebied.
Nuwe uitdagings vir vandag
Johan moes, soos almal op aarde, nuut dink en innoverend wees. Na baie prosesse en kursusse begin daar `n nuwe lewe “oopgaan”.
Huidige fokus:
- Gesertifiseerde Lewensafrigter (Life-Coach)
- Praktisyn by Kobus Neethling Brein Instituut (Breinprofiele / Denkvoorkeure)
- Geestelike leiding en opleiding (Spiritual Director)
- Deeltydse: Administratiewe assistent by Design Central – Evette Annandale
Verdere agtergrond
Johan is in 1961 in Benoni gebore en het in Vereeniging in ‘n pastorie grootgeword. Hy was in die Laerskool Handhawer en het aan die Hoërskool Vereeniging gematrikuleer. Ná matriek het hy onderwys studeer, en daarna Teologie en in die bediening gegaan.
Op die ouderdom van 10 het Johan reeds gevoel dat God hom geroep het om deel van Sy bediening te wees, maar aanvanklik het hy doelbewus en doelgerig van hierdie roeping af weghardloop.
Johan is in 1983 met Hannalie getroud en hulle het twee wonderlike kinders uit die huwelik. Albei kinders is nou getroud met wonderlike lewensmaats. Hulle het ook twee juwele van kleinseuns.
Na sy studies aan die Universiteit van Potchefstroomse vir CHO het die eerste onderwyspos gewag. By die Laerskool Emfulenipark in Vanderbijlpark het hy sy eerste tree in die onderwys gegee. Hierna skuif hy na die die Hoërskool Vereeniging waar hy `n paar jaar terug gematrikuleer het. .
Sang was altyd deel van sy lewe en die huis waarin hy grootgeword het. Sy musikale opleiding was klassiek van aard, maar hy het gedurende sy jare as onderwyser “Gospel Musiek” begin sing.
Groot kruispad in die lewe
In 1989 het hy en Hannalie ‘n gebedseminaar bygewoon wat deur Francois Vosloo van Operasie Mobilisasie aangebied is. Hier het die Heilige Gees duidelik met beide Johan en Hannalie gepraat en hulle het die Here se leiding begin soek. Die Heilige Gees het hulle baie duidelik gelei. As gevolge hiervan het hulle besluit dat Johan verder moes studeer en in gehoorsaamheid aan hierdie openbaring het hy as predikant gekwalifiseer.
Ná ses jaar in die onderwys, het Johan bedank en na Stellenbosch verhuis, waar hy sy B. Th graad aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi het. Ná hierdie studies is hy na die NG Gemeente Elarduspark in die ooste van Pretoria beroep.
Na 13 jaar as ‘n dominee het hy egter die gemeente bediening bedank en op vryskut basis landswyd en in die buiteland te bedien.
