Esther berei haar voor vir die koning
Met die lees van Esther se verhaal het iets my opnuut getref in Esther 2:12 en 15.
Esther se voorbereiding het onder andere ingesluit dat sy vir ses maande met mirre-olie en ses maande met balsem en ander skoonheidsmiddels behandel is. Met die verloop van `n jaar is haar vel deurweek met lieflike geure. Hierdie behandeling het tot gevolg gehad dat sy `n spesifieke en wonderlike reuk gehad het wat in haar vel ingetrek het en om haar gesweef het. Daarby was sy ook beeldskoon. Die gevolg was dat sy die aandag en belangstelling van almal om haar moes getrek het, veral van die jongmanne in die paleis. Ek wonder of dit nie tog by tye vir hierdie meisie `n versoeking was om aan mans se aandag toe te gee en vir `n oomblik van die koning te vergeet nie.
Dit is egter nie wat gebeur het nie. Esther se fokus was om haar voor te berei vir daardie een aand saam met die koning. Esther het haar voorberei omdat die Koning haar fokus was. Sy was afgesonder net vir die doel – sy teenwoordigheid en om vir hom alleen afgesonder te wees. Wanneer mense na haar gekyk het, was die koning oorlaai met komplimente en het hy die eer gekry. Van haar kant af het sy alle toenadering afgewys.
Na die jaar se voorbereiding en die aand by die koning kon sy ook enige iets kry wat sy begeer het en gevra het. Sy het niks gevra nie. Haar fokus was net op die koning en sy teenwoordigheid en niks anders nie. Sy het haar dan vir `n jaar lank met sorg vir hierdie ontmoeting voorberei.

Is Esther se manier van voorbereiding en lewe nie ver verwyder van ons manier van leef indien ons dit op geestelike vlak toepas nie? Hoe wonderlik sal ons “reuk” deur woorde en dade nie wees wanneer ons onsself “week” en “behandel” met die skoonheidsmiddel wat die Woord genoem word nie? Hoe wonderlik sal dit nie wees as die Woord gelees, bepeins én toegepas word nie? Die toepassing en leef volgens die Woord ontbreek tans in baie gevalle in Christene se lewens sowel as die Kerk as instituut.
Hoe wonderlik sal hierdie reuk nie wees as ons die teenwoordigheid en nie net die gawes van die Here opsoek en dan ook lang tye by Hom spandeer nie?
Ek wonder waarmee ons onsself besig hou. Waarmee behandel ons ons siel en gees? Ek het so bewus geword dat ander die “reuk” van dit waarmee ek my besig hou sal kan “ruik” wanneer ek in hulle teenwoordigheid is. Is die “reuk” dit van wat die wêreld my bied, oorvloed tyd aan sosiale media, dit wat ek lees en kyk en vele meer of die reuk van die Woord wat toegepas word? My “reuk” is my gesindheid, my gedagtes, my woorde en my dade – my totale lewenswyse wat gevorm word deur dit waarmee ek myself “behandel” en “bederf”. Kry God die eer en “komplimente” wanneer mense by my is en na my kyk, wonder ek dikwels oor myself?
Waarin “week” ek my siel en gees en wat is die “reuk” wat deur my gesindheid, gedagtes, woorde en dade afgeskei word?
Ek wonder oor Esther en ek wonder hoe my lewenswyse kan verander as ek absoluut gefokus sal wees op die Koning van die konings, Sy teenwoordigheid en Sy eer.
Skrifgedeeltes
Esther 2:12 (OAV) En as die beurt van elke meisie aankom om na koning Ahasvéros in te gaan, nadat twaalf maande lank met haar volgens die wet vir die vroue gehandel is—want so lank het die dae van hulle voorbereiding geduur: ses maande lank met mirre-olie en ses maande met balsem en ander skoonheidsmiddels van die vroue
Esther 2:15 (OAV) Toe die beurt van Ester, die dogter van Abígail, die oom van Mórdegai, wat haar as sy dogter aangeneem het, kom om in te gaan na die koning, het sy niks verlang nie, behalwe wat Hegai, die hofdienaar van die koning wat die vroue bewaak, gesê het; en Ester het guns gevind in die oë van almal wat haar gesien het.

