WAT `N BREINPROFIEL IS

Inleiding

Die NBI Volwasse profiel kyk na die denkvoorkeure van die individu. As ons meer weet oor hoe ons verkies om te dink, kan dit ons meer bewus en sensitief maak teenoor die denkvoorkeure van ander persone.

Die “breinprofiele” is `n aanduiding van `n persoon “denk voorkeure”/“thinking preferences” (Breinprofiel). Die verslag van die breinprofiel is in wese die sinopsis of opsomming van die persoon se denk voorkeure op ‘n spesifieke tydstip in sy/haar lewe. Omdat die vertrekpunt “denk voorkeure” is, is dit belangrik om daarop te let dat daar geen slegte of verkeerde profiele is nie. ‘n Breinprofiel is ‘n beskrywende, nie-veroordelende analise, met geen profiel wat beter of slegter as ‘n ander is nie. Die verslag van die breinprofiel gee dus ‘n beskrywing van ‘n individu se denk voorkeure, en aanbevelings word gemaak op grond van daardie voorkeure.

Hierdie aanbevelings kan fokus op:

  • Persoonlike ontwikkeling
  • Vak- of loopbaankeuses
  • Moontlike leefstyl veranderings
  • Besigheid verbeterings
  • Persoonlike verhoudings
  • Verbetering van onderwys- en sportprestasies
  • Ouerskap
  • Leierskap en bestuur
  • Toekoms beplanning en baie ander moontlikhede

Vir bogenoemde is daar ook verskillende vraelyste en profiele wat aangevra kan word.

My lewe in relasie tot alles in die lewe

Die hele lewe bestaan uit mense wat in verhouding of relasie leef tot ander mense, die samelewing in geheel, hulle omgewing, werk, waardes en oortuigings (beliefs).  Denkvoorkeure het dus `n invloed op die wyse hoe elke mens na die lewe kyk, keuses maak, na ander mense kyk, kommunikeer sowel as `n werk vind wat by elkeen se denkvoorkeure pas.

Geen goeie of slegte profiele

Aangesien die fokus op denkvoorkeure is, is dit belangrik om daarop te let dat daar nie slegte of verkeerde profiele is nie. Die NBI Volwasse profiel is ‘n beskrywende, onbevooroordeelde ontleding van die denkvoorkeure, met geen profiel wat beter of slegter is as ‘n ander nie. Die verslag gee dus ‘n beskrywing van ‘n individu se  denkvoorkeure en doen aanbevelings wat daarop gebaseer is.

Denkvoorkeure en nie vaardighede of vermoëns nie

Die NBI Volwasse profiel meet denkvoorkeure en nie vaardighede of vermoëns om daardie voorkeure uit te voer nie. Dit kan dus gebeur dat ‘n individu ‘n baie sterk  voorkeur vir orde, beplanning en organisering het, maar nooit die geleentheid gehad het om te beplan en te organiseer nie. Die aanbeveling in hierdie geval sal dus wees dat  aangesien die begeerte daar is, die vaardighede wat die begeerte ondersteun,  ontwikkel behoort te word ten einde effektief te wees in ‘n bepaalde beroep. Andersyds is dit moontlik dat ‘n persoon uitstekende vaardighede het om byvoorbeeld ‘n bankbestuurder te wees, maar ‘n baie lae voorkeur het  vir  die prosesse wat met die werk geassosieer word. Die individu sal gevolglik nie in staat wees om die geesdrif en energie vol te hou en om gelukkig en produktief te bly in die bank omgewing nie. Die situasie kan lei tot verwerping en selfs tot uitbranding lei. Indien daar dus, byvoorbeeld,  `n ooreenkoms is tussen die denkvoorkeure van `n persoon en die werk en werksomstandighede in geheel, sal die persoon groter vervulling en vergenoegdheid beleef.

Geen spesifieke resep

Hoewel daar nie ‘n aanbevole resep is wat op alle mense betrekking sal hê nie, is die algemene aanbeveling dat ‘n persoon sy/haar sterkste voorkeure moet ontwikkel. Wat beteken dat die vaardighede van daardie kwadrant skerp gehou moet word. Dit is egter ook belangrik om bewus te bly daarvan dat feitlik elke mens voortdurend met mense in aanraking kom wat ander denkvoorkeure kan hê. Daarom is dit van kritiese belang om bedrewenheid ten opsigte van die ander kwadrante te ontwikkel – dit geld vir ouerskap, onderwys, leierskap, bestuur, verhoudings, sport – vir feitlik enige terrein van die lewe.

Voorbeelde in die praktyk

Dit is ook moontlik om ‘n hoë voorkeur in twee kontrasterende kwadrante, soos byvoorbeeld R1 en L2, te hê. Dit sal beteken dat jy sterk voorkeure in die kontrasterende kwadrant, regs bo en links onder sal hê. Jy sal dus voorkeure toon vir verandering en avontuur aan die een kant, en vir sekuriteit en tradisie aan die ander. Onthou egter dat ‘n hoë voorkeur vir ‘n spesifieke kwadrant nie noodwendig beteken dat jou voorkeure ewe sterk sal wees vir al daardie kwadrant se prosesse nie. Aangesien geen persoon in die geheel een-kwadrant dominant is nie, dui die profiel hoë gemiddelde en lae voorkeure aan.

Betekenis van die persentasies

Dit is belangrik om daarop te let dat die totaal in elke profiel 300 is. Die uitslae kan kortliks in die volgende kategorieë ingedeel word:

  • 95+ – Baie hoë voorkeur
  • 80-94 – Hoë voorkeur
  • 65-79 – Gemiddelde voorkeur
  • 50-64 – Lae voorkeur
  • 50 – Baie lae voorkeur

Let asseblief daarop dat ‘n individu se voorkeure altyd beoordeel moet word volgens kategorieë en nie volgens presiese punte nie.