Mense maak die lewe makliker?

Mense is op aarde geplaas om die lewe vir mekaar makliker te maak. Ja, ek weet dat ek liggelowig klink. Ek glo egter met my hele hart dat dit die doel van die mens is.

Is dit egter so? Die mens moes mekaar en die aarde oppas. Nou het die samelewing ontaard. Die samelewing of mensdom het ietwat koers verloor. Die mensdom loop soos zombies en wrakke in kermis kostuums en maskers met glimlagte rond terwyl  mense en die aarde besig is om onder gierigheid, onverdraagsaamheid en mishandeling in te gee.

Ai, hoe sinies klink ek nou! Maak mense dit regtig vir mekaar en vir die aarde `n gemakliker “journey” hier benede? Die vraag uit `n ander hoek is seker of mense mekaar veilig laat voel en omgee vir mekaar.

Voel ek veilig in ander mense se teenwoordigheid? Vra jy my? Dit hang af wie by my is. In sommige geselskappe slaan ek toe soos wat ek `n boek toemaak nadat ek dit klaar gelees het – ek maak dit toe om weg te pak, doodstil op die rak. So toe slaan ek -geliasseer stil. Ek lyk dan skielik soos die diepste introvert. Ek neig om `n introvert te wees, maar die mense wat my toets, sê ek is `n grensgeval. Anders is ek gemoedelik en stel myself soms onnodig bloot met my eerlikheid oor myself.

Of mense nou introverte of ekstroverte is, almal dra een of ander masker wat baie selektief verwyder word. O, nee, ek is `n oop persoon, kap jy terug. Toegegee, jy mag wees, maar die lewe en die mense binne die lewe veroorsaak dat elkeen van ons by omstandighede aanpas. Ons is baie selektief “oop” en het baie en wye grense, dink ek!?

Die punt is dat ons nie kan waag om rou eerlik en oop te wees nie. Ons kan nie waag om vir ander te wys dat daar seer, vrese of onsekerheid is nie. Die gierige mense wat op ander teer, sal onmiddellik daardie “swakheid” uitbuit, `n bespotting maak en verder misbruik.  Is dit wat van die mens geword het? Dis ongelukkig so, meen ek.

Ek dink ook dat elke mens tog iewers `n seerplekkie in die innerlike opgedoen het. Sommige se seerplekke is diep en seer en dalk nog steeds gevoelig. Ander is slegs deur `n ligte skermutseling met die lewe. Soms wil iemand uitskree en die pyn net met ander deel. Help, die las moet net ligter word, wil hulle skree. Dit gebeur nie, want vandag se kultuur verskaf al die middele en stukkies gereedskap wat ons nodig het om innerlike pyn te vermy omdat dit nie veilig is om uit te skree of saggies uit te kreun nie.

Nou gebruik die mense ander middele: Dink maar aan die gillende mense op sport paviljoene, seks – soms bisar, verdowingsmiddels, alkohol en alle ander tipes vermaak. Vir daardie oomblik is die pyn verder buite sig geskuif en probeer elkeen die “dwelm” wat voor hulle is met alles in hulle vermoë “inneem”. Lekker, tot die oomblik verby is. Dan weer maskers op, op die telling van drie. Herhaal al die motiverings mantras en daar gaan die mens al huilende agter masker met die lewe aan. 

Nou wat kan `n mens doen? Vir my werk dit om te skryf en te bid. Ek skryf rou, eerlik hoe ek voel. Ek lees dit dan hardop vir myself sodat ek dit kan hoor. Ek sê dit dan vir die Here. Ek weet nie altyd wat om verder daarmee te doen nie, maar ek laat woorde vorm rondom die seer van die verlede of hede, onsekerheid, angstigheid of wat die geval mag wees. Ek skryf, lees hardop, bid en probeer net afgee.

Afgee is nie maklik nie. Henry Nouwen skryf in sy boekie: “Open hands” dat mense so baie “verlede-dinge” in hulle hande toehou sodat die kneukels wit wys. Dit is soos mense wat krampagtig aan hul laaste geld stukkie of edelsteen sal vasklou. So klou ons aan seer, verwerping, kwaad en wrokke en soveel meer vas. Sό, sê hy, kan mens nie bid nie. Die hande moet begin oopgaan en dit wat vasgehou word, moet uit. Die mens kan dit egter nie self wegneem nie. Al wat ons kan doen, is om ons hande stadig oop te maak en te vra dat die Here dit wat ons so vasklou te neem. So, met verloop van tyd, sal die hande oopgaan en kan ons met oop hande bid. Ja, sal ons selfs ons hande na bo kan optel en begin loof en prys. Die letsel mag dalk nog wys, maar die pyn is weg. Die herinneringe sal bly, maar die seer sal Hy verlig.

Op stuk van sake glo ek steeds dat mense op aarde geplaas is om die lewe vir mekaar draagliker te maak. Om saam te “journey” – hand aan hand.

Eintlik wens ek dat elkeen van ons iewers veilige plekkies, tye en persone sal kry by wie ons veilig kan wees. Mense by wie ons maskers sal kan afhaal sonder dat hulle geskok sal wees όf ons sal spot of verwerp.

Mag jy die persone vind wat met onvoorwaardelike liefde en aanvaarding die lewe vir jou makliker sal maak hier op aarde – hand aan hand saam sal stap, ongeag die omstandighede.

Mense maak tog die lewe makliker.

Leave a Reply