Kris Vallaton se aanhaling het my aan die dink gekry. Hy skryf in een van sy boeke:
“We view the world not as it is, but as we are”.
In een van my sielkunde klasse het ek gehoor dat emosies en feite nie dieselfde ding is nie. Emosies is nie die werklike feite nie of is nie `n korrekte weergawe van die werklikheid nie. Ek onthou die voorbeeld wat genoem is: Na `n pasgetroude paartjie se eerste uitval, bel die vroutjie haar ma hoogs ontsteld. Al snikkend prewel sy die woorde: “Ons huwelik is op die rotse, mamma, dis alles verby! Ons gaan skei!”
Deel van die hantering van emosies (en konflik) is om te erken dat daar `n emosionele reaksie op gebeure sal wees. 
Stap een (soos in die diagram) sal wees om die emosies te kalmeer – afkoelfase. Die tweede stap is om verder te erken dat elke party feite sowel as `n verduideliking het vir hulle reaksie. Begin deur die feite te hanteer. Derdens kan daar gevra word of daar alternatiewe maniere is hoe die situasies en emosies hanteer kon word. Vierdens kan daar besluit word op stappe hoe die situasie in die toekoms hanteer sal word.
Sommige beheer hul emosies beter as ander. Elke mens hanteer emosies op `n unieke wyse. Vir my is dit soms moeilik om in die oggende wakker te word, op te staan en te erken dat my emosies nie die werklikheid weerspieël nie. Dit is wat dit is – emosies en nie feite nie, moet ek myself dikwels herinner. Toe ek jonger was, het ek vreeslik maklik gereageer as iets of iemand my ontstel het. Deur die jare het ek myself leer ken en weet nou dat my ontsteltenis min of meer 30-45 minute neem om te bedaar. Gedurende hierdie oomblikke dink ek min en reageer nog glad nie. Ek sal vir myself sê: “Stop Johan!” Ek reageer dan nie en gee myself tyd om die ontsteltenis te verwerk.
Emosies, soos teleurstelling, ontsteltenis, woede en angs is iets wat net eers soos `n perd koudgelei moet word. Dit kan ook wees soos wanneer iemand wag dat mistigheid verdwyn voordat die pad aangedurf word. Jy kan voor die tyd ry. Die moontlikheid is egter daar dat jy in `n ongeluk kan beland. Ongelukke het gevolge, vra maar vir my. Dit is daardie woord, sinnetjie, optrede, besluit of negatiewe liggaamstaal wat jy dalk jou hele lank sal berou. Dit glip so maklik uit wanneer jy eintlik in die afkoel-fase moes gewees het. Wel, dit werk so met my en emosies.
Ek dink nou ook aan `n vriendin wat eendag ewe ernstig gevra het of ek weet dat mense wat baie praat maklik in die moeilikheid beland as gevolg van dit wat hulle sê. Min het sy geweet dat mense wat praat wanneer hulle ontsteld is, ook baie keer in die moeilikheid beland.
Is dit vir almal ewe maklik om emosies en feite te skei? Dit is sekerlik iets wat aangeleer kan word, maar ek dink tog elke mens het `n eie persoonlike stryd wanneer dit kom om tussen emosies en feite te onderskei. Meeste se emosies kry soms die oorhand oor gesonde verstand of logika. Logika volg na aanvanklike stilbly gevolg deur goeie feitelike beredenering, dink ek.
In die geval van die pasgetroude paartjie was die emosies oorweldigend – “My sielsgenoot was lelik met my! Ek wil net sterf want my huwelik is na een week op die rotse!” Die feite is dat dit maar die eerste van vele meningsverskille sou wees. Hulle sou maniere moes kry om dit te hanteer anders sou emosies altyd die feite oordonder het.
Wanneer ek die inperking beleef, wil my emosies soms die oorhand oor feite kry. Die huis en erf word skielik baie kleiner as wat dit voorheen was. Ek voel net sό benoud in hierdie sel waarin my emosies my wil toesluit. Ek was ook lanklaas so gekonfronteer met hoe ek myself beleef en wie ek dink ek is. My foute in die lewe of wat ek as foute beskou, draai soms soos `n swerm bye om my. Elke dag is daar nuwe spoke of ou spoke in nuwe klere uit die verlede wat via donker emosies by my wil kom kuier.
Hoe beveg ek my persoonlike spoke? Dis regtig moeilik. Wel, vir my is dit regtig moeilik. As Christen probeer ek dit hanteer deur vir myself te sê: “Stop!” Ek bid dan: “Heilige Gees, kom asseblief in hierdie situasie en my emosies in. Hoe moet ek dit hanteer?” Ek sit dan stil. Nog later sal en vra: “Wys my ook wat die wortel van my emosies en reaksie is”. Ek sal dan net stil sit en wag of ek sal in my joernaal begin skryf en skryf en skryf totdat ek al my emosies op papier uit-geskryf het.
Soms neem ek die Psalms en begin dit net lees totdat vrede in my siel begin invloei.
Ja, soos vir baie ander persone bly dit vir my `n geveg om myself te herinner dat my emosies nie gelyk aan feite is nie.
Die bedreiging van emosies het my laat my dink aan my dae in Stellenbosch. In die winter, wanneer dit gereën het, het die mis soms dik oor ons gehang en aanhoudend reën uitgegiet. Soms het ek Coetzenburg toe gestap en dan teen Stellenboschberg uitgeklim. Een dag het ek ontdek dat die mis nie so dik is nie.

Ek het tot by `n kruis op die berg geklim. Terwyl ek af gekyk het, het ek gesien hoe die mis ver onder my is. Dit het so sag en vol vrede, soos watte, aan die voete van Pappegaaiberg en Simonsberg gelê en sommer die pad Somerset-Wes toe begin vat. Dit was op daardie oomblik `n mooi en sagte natuurverskynsel. Van onder af het dit na dreigende, swaar en swanger wolke gelyk. Dit het `n bietjie inspanning gekos om `n entjie teen die berg uit te stap. Eers was daar gietende reën en toe, bo die wolke, die sonskyn.
Terwyl ek by die kruis gesit het, het `n kerkklok veraf gelui. Dit was toe asof ek Jesus se woorde gehoor het: 28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. 29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; 30 want my juk is sag en my las is lig. (Mat 11:28-30 OAV).
Na `n ruk het die wolke verdwyn en het die son Simonsberg saggies begin streel.
Dit was tyd om huis toe te gaan.

