Esther se lieflike geur

Esther berei haar voor vir die koning

Met die lees van Esther se verhaal het iets my opnuut getref in Esther 2:12 en 15.

Esther se voorbereiding het onder andere ingesluit dat sy vir ses maande met mirre-olie en ses maande met balsem en ander skoonheidsmiddels behandel is. Met die verloop van `n jaar is haar vel deurweek met lieflike geure. Hierdie behandeling het tot gevolg gehad dat sy `n spesifieke en wonderlike reuk gehad het wat in haar vel ingetrek het en om haar gesweef het. Daarby was sy ook beeldskoon. Die gevolg was dat sy die aandag en belangstelling van almal om haar moes getrek het, veral van die jongmanne in die paleis. Ek wonder of dit nie tog by tye vir hierdie meisie `n versoeking was om aan mans se aandag toe te gee en vir `n oomblik van die koning te vergeet nie.

Dit is egter nie wat gebeur het nie. Esther se fokus was om haar voor te berei vir daardie een aand saam met die koning.   Esther het haar voorberei omdat die Koning haar fokus was. Sy was afgesonder net vir die doel – sy teenwoordigheid en om vir hom alleen afgesonder te wees. Wanneer mense na haar gekyk het, was die koning oorlaai met komplimente en het hy die eer gekry. Van haar kant af het sy alle toenadering afgewys.

Na die jaar se voorbereiding en die aand by die koning kon sy ook enige iets kry wat sy begeer het en gevra het. Sy het niks gevra nie. Haar fokus was net op die koning en sy teenwoordigheid en niks anders nie. Sy het haar dan vir `n jaar lank met sorg vir hierdie ontmoeting voorberei.

Is Esther se manier van voorbereiding en lewe nie ver verwyder van ons manier van leef indien ons dit op geestelike vlak toepas nie? Hoe wonderlik sal ons “reuk” deur woorde en dade nie wees wanneer ons onsself “week” en “behandel” met die skoonheidsmiddel wat die Woord genoem word nie? Hoe wonderlik sal dit nie wees as die Woord gelees, bepeins én toegepas word nie? Die toepassing en leef volgens die Woord ontbreek tans in baie gevalle in Christene se lewens sowel as die Kerk as instituut.

Hoe wonderlik sal hierdie reuk nie wees as ons die teenwoordigheid en nie net die gawes van die Here opsoek en dan ook lang tye by Hom spandeer nie?

Ek wonder waarmee ons onsself besig hou. Waarmee behandel ons ons siel en gees? Ek het so bewus geword dat ander die “reuk” van dit waarmee ek my besig hou sal kan “ruik” wanneer ek in hulle teenwoordigheid is. Is die “reuk” dit van wat die wêreld my bied, oorvloed tyd aan sosiale media, dit wat ek lees en kyk en vele meer of die reuk van die Woord wat toegepas word?  My “reuk” is my gesindheid, my gedagtes, my woorde en my dade – my totale lewenswyse wat gevorm word deur dit waarmee ek myself “behandel” en “bederf”. Kry God die eer en “komplimente” wanneer mense by my is en na my kyk, wonder ek dikwels oor myself?

Waarin “week” ek my siel en gees en wat is die “reuk” wat deur my gesindheid, gedagtes, woorde en dade afgeskei word?

Ek wonder oor Esther en ek wonder hoe my lewenswyse kan verander as ek absoluut gefokus sal wees op die Koning van die konings, Sy teenwoordigheid en Sy eer.

Skrifgedeeltes

Esther 2:12  (OAV)  En as die beurt van elke meisie aankom om na koning Ahasvéros in te gaan, nadat twaalf maande lank met haar volgens die wet vir die vroue gehandel is—want so lank het die dae van hulle voorbereiding geduur: ses maande lank met mirre-olie en ses maande met balsem en ander skoonheidsmiddels van die vroue

Esther 2:15 (OAV) Toe die beurt van Ester, die dogter van Abígail, die oom van Mórdegai, wat haar as sy dogter aangeneem het, kom om in te gaan na die koning, het sy niks verlang nie, behalwe wat Hegai, die hofdienaar van die koning wat die vroue bewaak, gesê het; en Ester het guns gevind in die oë van almal wat haar gesien het.

It`s time to start dreaming again

We are experiencing times in which most people yearn back to “fatty meals” of circumstances of Egypt like the Israelites in the Bible while wandering in the desert. You will find that this craving for a better life is the underlying tone in the words and conversations of people and seen in their actions. We so often hear:  “Live in the present!”  This is not that easy. The reason that we are so desperately holding onto the past or yearning for a better tomorrow.  In these hard and uncomfortable situations and a dark state of mind, we try to grab onto something in the future that often will never be grasped. It is just here where many of us will get stuck.  It becomes a hobby to sit and stare at the current circumstances or complain while wishing for a better future.

Thus, we live in the future and forget to appreciate and enjoy the journey in the present. Someone once said: “Yesterday is history, tomorrow a mystery, but today is a gift”. Yes, in some way it sounds a bit “corny”, but somewhere in it we will find some truth.

Due to the present reality, most people are so caught up in a negative state of mind and living situation and that causes a kind of numbness in some and sudden aggression in others. It seems as if they are fighting and floating between the reappearing pieces of wreckage of their perception of their present circumstance. It might feel as if the unexpected and unrelenting perfect storm has struck them. One hears, “What now”, what now? Where to now? Others are fighting with their governments or systems because that is the symbol of their misery and only visible and viable target. But is it?

All of this might possibly be a smokescreen or defense mechanism for something buried much deeper and longer in their unconscious mind. Might it be that the whole scenario of the pandemic did not change people and their behavior, but only unearthed the real character that was hidden behind the walls of better circumstances? Every desperation might only be an attempt to try to swim through the reappearing pieces of life`s wreckages and the stench of death and loss from our past to who knows where. Hopefully, some will realize this and seek help.

What now? How different?

Start to think radically fresh. Make a daily commitment to stop all negative thinking and you will see how new creativity surfaces and will be drawn to you. Start to dream constructively again. What do you see on the horizon of these dark times? Maybe it is time to write down your passions. Write a dream and you’ll start to see it after a while. No, not pies in the sky, real dreams accompanied by smart goals. It must be something you can really do, according to your passions, on your time and from the place where you prefer to do it.

Write or draw about that dream and how it can look like.

Maybe, you really feel like you are drifting between reappearing pieces of wreckage and stench but begin to swim purposefully to solid goals and solid ground.

Remember if you can reach your dream easily and without help, you don’t dream big enough.

My emosies en die feite

Kris Vallaton se aanhaling het my aan die dink gekry. Hy skryf in een van sy boeke:

“We view the world not as it is, but as we are”.

In een van my sielkunde klasse het ek gehoor dat emosies en feite nie dieselfde ding is nie. Emosies is nie die werklike feite nie of is nie `n korrekte weergawe van die werklikheid nie. Ek onthou die voorbeeld wat genoem is: Na `n  pasgetroude paartjie se eerste uitval, bel die vroutjie haar ma hoogs ontsteld. Al snikkend prewel sy die woorde: “Ons huwelik is op die rotse, mamma, dis alles verby! Ons gaan skei!”

Deel van die hantering van emosies (en konflik) is om te erken dat daar `n emosionele reaksie op gebeure sal wees.

Stap een (soos in die diagram) sal wees om die emosies te kalmeer – afkoelfase.  Die tweede stap is om verder te erken dat elke party feite sowel as `n verduideliking het vir hulle reaksie. Begin deur die feite te hanteer.  Derdens kan daar gevra word of daar alternatiewe maniere is hoe die situasies en emosies hanteer kon word. Vierdens kan daar besluit word op stappe hoe die situasie in die toekoms hanteer sal word.

Sommige beheer hul emosies beter as ander. Elke mens hanteer emosies op `n unieke wyse.  Vir my is dit soms moeilik om in die oggende wakker te word, op te staan en te erken dat my emosies nie die werklikheid weerspieël nie. Dit is wat dit is – emosies en nie feite nie, moet ek myself dikwels herinner. Toe ek jonger was, het ek vreeslik maklik gereageer as iets of iemand my ontstel het. Deur die jare het ek myself leer ken en weet nou dat my ontsteltenis min of meer 30-45 minute neem om te bedaar. Gedurende hierdie oomblikke dink ek min en reageer nog glad nie. Ek sal vir myself sê: “Stop Johan!” Ek reageer dan nie en gee myself tyd om die ontsteltenis te verwerk.

Emosies, soos teleurstelling, ontsteltenis, woede en angs is iets wat net eers soos `n perd koudgelei moet word. Dit kan ook wees soos wanneer iemand wag dat mistigheid verdwyn voordat die pad aangedurf word. Jy kan voor die tyd ry. Die moontlikheid is egter daar dat jy in `n ongeluk kan beland. Ongelukke het gevolge, vra maar vir my. Dit is daardie woord, sinnetjie, optrede, besluit of negatiewe liggaamstaal wat jy dalk jou hele lank sal berou. Dit glip so maklik uit wanneer jy eintlik in die afkoel-fase moes gewees het. Wel, dit werk so met my en emosies.

Ek dink nou ook aan `n vriendin wat eendag ewe ernstig gevra het of ek weet dat mense wat baie praat maklik in die moeilikheid beland as gevolg van dit wat hulle sê. Min het sy geweet dat mense wat praat wanneer hulle ontsteld is, ook baie keer in die moeilikheid beland.

Is dit vir almal ewe maklik om emosies en feite te skei? Dit is sekerlik iets wat aangeleer kan word, maar ek dink tog elke mens het `n eie persoonlike stryd wanneer dit kom om tussen emosies en feite te onderskei. Meeste se emosies kry soms die oorhand oor gesonde verstand of logika. Logika volg na aanvanklike stilbly gevolg deur goeie feitelike beredenering, dink ek.

In die geval van die pasgetroude paartjie was die emosies oorweldigend – “My sielsgenoot was lelik met my! Ek wil net sterf want my huwelik is na een week op die rotse!” Die feite is dat dit maar die eerste van vele meningsverskille sou wees. Hulle sou maniere moes kry om dit te hanteer anders sou emosies altyd die feite oordonder het.

Wanneer ek die inperking beleef, wil my emosies soms die oorhand oor feite kry. Die huis en erf word skielik baie kleiner as wat dit voorheen was. Ek voel net sό benoud in hierdie sel waarin my emosies my wil toesluit. Ek was ook lanklaas so gekonfronteer met hoe ek myself beleef en wie ek dink ek is. My foute in die lewe of wat ek as foute beskou, draai soms soos `n swerm bye om my. Elke dag is daar nuwe spoke of ou spoke in nuwe klere uit die verlede wat via donker emosies by my wil kom kuier.

Hoe beveg ek my persoonlike spoke? Dis regtig moeilik. Wel, vir my is dit regtig moeilik. As Christen probeer ek dit hanteer deur vir myself te sê: “Stop!” Ek bid dan: “Heilige Gees, kom asseblief in hierdie situasie en my emosies in. Hoe moet ek dit hanteer?” Ek sit dan stil. Nog later sal en vra: “Wys my ook wat die wortel van my emosies en reaksie is”. Ek sal dan net stil sit en wag of ek sal in my joernaal begin skryf en skryf en skryf totdat ek al my emosies op papier uit-geskryf het.

Soms neem ek die Psalms en begin dit net lees totdat vrede in my siel begin invloei.

Ja, soos vir baie ander persone bly dit vir my `n geveg om myself te herinner dat my emosies nie gelyk aan feite is nie.

Die bedreiging van emosies het my laat my dink aan my dae in Stellenbosch. In die winter, wanneer dit gereën het, het die mis soms dik oor ons gehang en aanhoudend reën uitgegiet. Soms het ek Coetzenburg toe gestap en dan teen Stellenboschberg uitgeklim. Een dag het ek ontdek dat die mis nie so dik is nie.

Ek het tot by `n kruis op die berg geklim. Terwyl ek af gekyk het, het ek gesien hoe die mis ver onder my is. Dit het so sag en vol vrede, soos watte, aan die voete van Pappegaaiberg en Simonsberg gelê en sommer die pad Somerset-Wes toe begin vat. Dit was op daardie oomblik `n mooi en sagte natuurverskynsel. Van onder af het dit na dreigende, swaar en swanger wolke gelyk. Dit het `n bietjie inspanning gekos om `n entjie teen die berg uit te stap. Eers was daar gietende reën en toe, bo die wolke, die sonskyn.

Terwyl ek by die kruis gesit het, het `n kerkklok veraf gelui. Dit was toe asof ek Jesus se woorde gehoor het: 28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. 29  Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; 30  want my juk is sag en my las is lig. (Mat 11:28-30 OAV).

Na `n ruk het die wolke verdwyn en het die son Simonsberg saggies begin streel.

Dit was tyd om huis toe te gaan.

Opstandingsondag en my leë woorde

Dit is Opstandingsondag, sê die kalender vanoggend toe ek wakker word. Op my foon is alreeds baie prentjies en teksversies en selfs een hoendervleis ritueel op video vasgevang.

Ek het my bydrae ook probeer lewer. Maar, pas nadat ek die “share” knoppie gedruk het, het vrae in my gedagtes begin maal. Ek het begin wonder hoe ek iemand kan bemoedig wat vanoggend in moeilike omstandighede en met donker emosies wakker geword het. Wat sê ek vir iemand wat sukkel om in die opstanding van Jesus te glo omdat hulle so seer het? Wat sê ek vanoggend vir iemand wat eerder soos Dawid in Psalm 22 met rou én seer of in eensaamheid én verlatenheid uitroep: “My God, my God waarom het U my verlaat?”.  Wat sê ek vir iemand wat glad nie eers in God glo nie?

Ja, ek weet dat ons as Christene goed bedoel en baie raad het en dikwels, ongevoelige raad het. Die ongevoeligheid volg nie uit die feit dat ons in wese ongevoelig is nie. Dit vloei maar net uit die manier hoe ons groot gemaak is – ons wil Jesus verdedig. Dit vloei uit wat ons dink die Christelike godsdiens, die Bybel en Skrifgedeeltes sou wou hê dat ons moet sê. Dit is mos wat ons geleer het en wat die regte antwoord is. Ons probeer ons bes om te motiveer of te bemoedig. Menige berader het goeie raad. Ons bedoel regtig goed en is opreg, soms ook opreg verkeerd, sê `n vriend eendag vir my.

Ek wonder maar net wat maak ek met iemand wie se seer so donker en groot is dat daar nie lig uit `n graf kan skyn nie. Nie vandag nie.

My gedagtes gaan uit na soveel mense wat wêreldwyd gesterf het. Vir my is dit statistieke, maar iewers in die wêreld sit `n familie met diepe rou oor `n geliefde wat alleen gesterf het en wie weet waar begrawe is. Ek voel toe weer die pyn van my broer wat dood is toe ek met my hele wese gehoop het dat hy sou leef. My gedagtes gaan toe verder, want iewers in die wêreld is kinders wat mishandel, misbruik en geboelie word. Iewers is `n pa of ma wie se kind die pad byster geraak het. Iewers is iemand wie se loopbaan, werk en besigheid vernietig is όf dreig om vernietig te word. Iewers is iemand tot die dood toe honger en dors. Iewers is iemand net so diep ontnugter of teleurgesteld.

Iewers….ja, iewers is persone wie se nood en seer soos `n blinddoek oor hulle emosionele en geestelike oë gespan is dat hulle nie eers die Bybel kan of wil lees nie. Iewers loop trane so aanhoudend dat dit nie opgedroog kan word nie. Trane laat enige beeld uit fokus raak. Trane is vandag `n realiteit.

Hier sit ek vandag hoog en droog en probeer dink wat ek vanoggend vir hierdie stukkende mense kan sê.

Ek hoor hoe mense al baie keer vir my gesê het: “Johan, ons bid vir jou!” Vanoggend is dit nie genoeg nie, maar ek kan niks anders doen nie. Dis `n magteloosheid wat oor my spoel, want vanoggend het baie nie behoefte aan my mening of woorde oor die Paasboodskap nie. Hulle het nie behoefte aan my weergawe van `n bebloede, magtelose Jesus aan `n kruis nie. Hulle het nie behoefte aan my hoendervleis mooi beskrywing van `n Jesus wat misterieus en bonatuurlik uit die dood uit opgewek is nie. Hulle seer keer dat hulle kan of wil hoor.

Dalk het hulle behoefte om Jesus se stem te hoor wat hulle op hulle naam roep, soos Hy Maria buite die graf op haar naam genoem het. Hulle het dalk meer behoefte dat die Heilige Gees van Handelinge 2 sal “opdaag”. Hulle het dalk behoefte dat die Jesus van Openbaring 1 sal opdaag met Sy gelaat wat so helder is soos die son wat op sy helderste is, wie se stem soos die gedruis van `n geweldige watermassa is wat sal inspreek in slegte omstandighede en swart, donker emosies sal genees. Miskien het hulle behoefte aan die Jesus van Openbaring 19 wat op Sy wit perd die weermag van die hemel en almal in hulle wit klere aanvoer. Iemand wat die donker boosheid van hulle desperate omstandighede sal verdryf. Miskien het hulle behoefte aan die werklike Jesus wat opgestaan het en nie behoefte aan ons menings of leë woorde nie – selfs my goedbedoelde leë woorde van vanoggend.

Dalk het hulle net behoefte aan deernis. Dalk net na iemand wat sal luister sonder om te probeer reghelp of preek.

Miskien is hierdie persone net so pap geslaan deur die lewe dat hulle maar net doelloos voor hulle uit staar. Wat beteken ek of doen ek vanoggend met my weergawe van `n boodskap vir hulle? Watter waarde en krag het my weergawe van die Paasboodskap regtig vir mense? Maak dit enige verskil behalwe om hulle vir `n oomblik emosionele verligting te gee of skuldig te laat voel, net om hulle weer na hulle eie omstandighede te laat terugkeer?

Vanoggend is my gedagtes in `n warboel oor die kragteloosheid van die Paasboodskap uit mense se monde en dade. Gelukkig sê die Skrif dat Jesus ook met my medelye het, al dink ek vanoggend dat die seer van die individue en die wêreld te groot is en ons boodskap te kragteloos en hulpeloos is en te maklik uit menslike monde vloei om mense se nood regtig te verlig.

Ek sit toe maar net stil, staar lank by die venster uit en lees Psalm 22 namens almal wat sukkel om te glo……daarna val my oog op Psalm 23…..

In my alleenheid en stilligheid hoop ek toe dat die ware boodskap van Paasfees in vandag se stukkende wêreld hoorbaar en sigbaar sal word – Al is dit maar net `n vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Covit -19 het my privaatheid gesteel

 

My siel het “me-time” nodig, wil ek uitskree!

My menswees het “me-time” nodig.

Sosiale media is totaal oorlaai. Daar is liggaamlik dalk sosiale afstand, maar op sosiale media is almal in almal se gesigte en “spacebubbles” ingevleg.

  • Mense het nie die vermoë om hulle afstand te behou nie.
  • Mense het net nie die vermoë om stil te bly nie.
  • Mense het nie die vermoë om stil te word nie.

Dit is seker een van die mees frustrerende tye van my lewe. Mense is verveeld en vriende en familie ontgeld dit. Nee, die wêreld ontgeld dit!

Boodskappe versprei baie vinniger as die Corana-virus en mense gryp na grashalms en vergeestelik alles wat hulle kan kry. Ek is nie so seker dat God in al hierdie boodskappe en video’s `n aandeel het nie. Dit het die punt bereik dat ek meer op my knieë staan om my negatiewe gesindheid te bely as wat ek koppies koffie as troos drink.

Die ander bedrywigheid is dat mense die een video, met een of ander geestelike tema, na die ander kyk en dit dan nog aanstuur. Verder maak elkeen wat toegang tot `n “smartphone” het opnames en versprei hulle eie Coroana-teologie en menings.

Hoeveel kennis wil Christene nog bykry sonder om dit wat hulle leer eers toe te pas op hulle lewe? As ons maar net kleiner deeltjies wil neem en dit toepas en die massas preke en boodskappies eers los. Dis nou die ideale tyd om minder in te neem en meer in te oefen.

Mense weet nie wat stil-word is nie. Wat mense ook nie besef nie, is dat die lewe nooit weer dieselfde gaan wees nie. Ons sal nie weer gewoon soos in die verlede voortleef nie. Die gewoontes wat nou aangeleer word, gaan bly. Behoede my as die nuwe sosiale-media gewoontes gaan bly. Ongelukkig gaan dit wat nou aangeleer word, bly. Dit is nou as die sielkunde reg is. In 21 dae word dit wat jy aanhoudend doen `n gewoonte. `n Gewoonte, as ek reg verstaan, word nie net weggegooi nie, dit word met `n ander gewoonte vervang. Dit is die rede waarom mense die drang het om ook nog steeds in die strate rond te lê. Hulle was όf besig soos bye όf op straat.  Indien mense nie in die strate kan rondlê nie, loop hulle op sosiale media rond. Gewoontes manifesteer nou maar net op ander maniere.

Wat ons ook nie altyd besef nie, is dat die maatreëls wat regerings nou instel nie sommer verslap gaan word nie. Alles gaan nie sommer oornag terugkeer na “default” nie, indien ooit. Mense se privaatheid gaan minder en minder word. Regerings hou van mag en sal aan soveel maatreëls as moontlik wil vashou. Raak gewoond daaraan en skep vir jou privaatheid en privaat tye.

Waar het alles verlore gegaan?

Waar het die rus en vrede van die sewende skeppingsdag verdwyn? Is dit nie dalk omdat ons nie meer weet wat die “rus van die Here” is nie? Het Hy nie die sewende dag geskep en het ons toe nie die badwater met baba en al by die deur uitgegooi nie? Dit is mos Joodse teologie, hoor ek. Nee, ons het die ritmes van God se genade nie eerbiedig nie. Ons het die Olam Nawtheeb (Hebreeus) of ewige paaie van Jeremia 6:16 nie eerbiedig nie. Wat nou?

Dit is nou wonderlike tye om uit te roep:

  • “Stop!”
  • Herbesin oor jou lewe
  • Herverbind jou aan die Here en sy manier van lewe
  • Leer hierdie ou, Bybelse gewoontes weer aan – Die ritmes van genade wat God geskep het – en julle sal rus vind vir julle siele. Amper iets soos Matteus 11:28-30, dink ek.

Ek pleit dat hierdie huidige vloedgolf van sosiale media vergrype en tendense nie `n gewoonte sal word nie.

Leer aan om tot 10 te tel voordat die ou vingertjie `n boodskap stuur.

Dit is nou tyd om:

  • Jou waardes te besoek. Wat is werklik belangrik in die lewe?
  • As Christen, te besin oor jou verhouding met die Here. Waar pas Hy in jou lewe in? Dit gegewe dit feit dat ons Hom dalk in hierdie tyd kan ontmoet as jy en ek dalk deel van die hartseer statistieke word. Is ek en jy regtig so onsterflik? Ek dink nie so nie.
  • Jou siel, gees en liggaam te “detox” van die lewenswyse van die wêreld.
  • Te besin oor wat goeie gewoontes is
  • Te besin oor waarmee jy jou in jou kort lewentjie besig hou
  • Te dink hoe jy in `n kleingroep jou geloof gaan beoefen. Ek twyfel sterk of “kerk” soos mense dit geken het weer sal plaasvind. Hiermee bedoel ek dat honderde en duisende langs mekaar sal sit en mekaar se asems opsnuif. Ek dink nie so nie.

Less is better, het ek eens in die onderwys geleer. Los vir `n tydperk die massas video’s en sosiale media en besin oor die volgende.

  • Beplan bepaalde tye van stil-word. Die Bybelse ure van gebed gedurende die dag was 09:00, 12:00 en 15:00
  • Neem `n kort Skrifgedeelte – “Less is better”
  • Bid dat die Heilige Gees, die Gees van die Waarheid, jou sal lei, wysheid en insig gee.
  • Lees dit drie-maal stadig deur
  • Watter frases of woorde tref jou – herhaal die frases en woorde
  • Bepeins dit oor wat dit regtig vir jou beteken
  • Hoe jy dit gaan toepas in jou lewe?
  • Hoe gaan dit jou hele lewe verander?
  • Skryf dit oor as `n gebed
  • Memoriseer die Skrifgedeelte en hou aan om daaroor te peins deur die loop van die dag.

Hoe kan jy jouself nou reeds voorberei indien die lewe nie sal terugkeer na dit waaraan jy gewoond was nie? Ek is oortuig jy gaan my eendag bedank dat ek hierdie vraag gevra het.

Mag ons “me-time” terug kry en mag sosiale afstand fisies en digitaal gerespekteer word.