My siel het “me-time” nodig, wil ek uitskree!
My menswees het “me-time” nodig.
Sosiale media is totaal oorlaai. Daar is liggaamlik dalk sosiale afstand, maar op sosiale media is almal in almal se gesigte en “spacebubbles” ingevleg.
- Mense het nie die vermoë om hulle afstand te behou nie.
- Mense het net nie die vermoë om stil te bly nie.
- Mense het nie die vermoë om stil te word nie.
Dit is seker een van die mees frustrerende tye van my lewe. Mense is verveeld en vriende en familie ontgeld dit. Nee, die wêreld ontgeld dit!
Boodskappe versprei baie vinniger as die Corana-virus en mense gryp na grashalms en vergeestelik alles wat hulle kan kry. Ek is nie so seker dat God in al hierdie boodskappe en video’s `n aandeel het nie. Dit het die punt bereik dat ek meer op my knieë staan om my negatiewe gesindheid te bely as wat ek koppies koffie as troos drink.
Die ander bedrywigheid is dat mense die een video, met een of ander geestelike tema, na die ander kyk en dit dan nog aanstuur. Verder maak elkeen wat toegang tot `n “smartphone” het opnames en versprei hulle eie Coroana-teologie en menings.
Hoeveel kennis wil Christene nog bykry sonder om dit wat hulle leer eers toe te pas op hulle lewe? As ons maar net kleiner deeltjies wil neem en dit toepas en die massas preke en boodskappies eers los. Dis nou die ideale tyd om minder in te neem en meer in te oefen.
Mense weet nie wat stil-word is nie. Wat mense ook nie besef nie, is dat die lewe nooit weer dieselfde gaan wees nie. Ons sal nie weer gewoon soos in die verlede voortleef nie. Die gewoontes wat nou aangeleer word, gaan bly. Behoede my as die nuwe sosiale-media gewoontes gaan bly. Ongelukkig gaan dit wat nou aangeleer word, bly. Dit is nou as die sielkunde reg is. In 21 dae word dit wat jy aanhoudend doen `n gewoonte. `n Gewoonte, as ek reg verstaan, word nie net weggegooi nie, dit word met `n ander gewoonte vervang. Dit is die rede waarom mense die drang het om ook nog steeds in die strate rond te lê. Hulle was όf besig soos bye όf op straat. Indien mense nie in die strate kan rondlê nie, loop hulle op sosiale media rond. Gewoontes manifesteer nou maar net op ander maniere.
Wat ons ook nie altyd besef nie, is dat die maatreëls wat regerings nou instel nie sommer verslap gaan word nie. Alles gaan nie sommer oornag terugkeer na “default” nie, indien ooit. Mense se privaatheid gaan minder en minder word. Regerings hou van mag en sal aan soveel maatreëls as moontlik wil vashou. Raak gewoond daaraan en skep vir jou privaatheid en privaat tye.
Waar het alles verlore gegaan?

Waar het die rus en vrede van die sewende skeppingsdag verdwyn? Is dit nie dalk omdat ons nie meer weet wat die “rus van die Here” is nie? Het Hy nie die sewende dag geskep en het ons toe nie die badwater met baba en al by die deur uitgegooi nie? Dit is mos Joodse teologie, hoor ek. Nee, ons het die ritmes van God se genade nie eerbiedig nie. Ons het die Olam Nawtheeb (Hebreeus) of ewige paaie van Jeremia 6:16 nie eerbiedig nie. Wat nou?
Dit is nou wonderlike tye om uit te roep:
- “Stop!”
- Herbesin oor jou lewe
- Herverbind jou aan die Here en sy manier van lewe
- Leer hierdie ou, Bybelse gewoontes weer aan – Die ritmes van genade wat God geskep het – en julle sal rus vind vir julle siele. Amper iets soos Matteus 11:28-30, dink ek.
Ek pleit dat hierdie huidige vloedgolf van sosiale media vergrype en tendense nie `n gewoonte sal word nie.
Leer aan om tot 10 te tel voordat die ou vingertjie `n boodskap stuur.
Dit is nou tyd om:
- Jou waardes te besoek. Wat is werklik belangrik in die lewe?
- As Christen, te besin oor jou verhouding met die Here. Waar pas Hy in jou lewe in? Dit gegewe dit feit dat ons Hom dalk in hierdie tyd kan ontmoet as jy en ek dalk deel van die hartseer statistieke word. Is ek en jy regtig so onsterflik? Ek dink nie so nie.
- Jou siel, gees en liggaam te “detox” van die lewenswyse van die wêreld.
- Te besin oor wat goeie gewoontes is
- Te besin oor waarmee jy jou in jou kort lewentjie besig hou
- Te dink hoe jy in `n kleingroep jou geloof gaan beoefen. Ek twyfel sterk of “kerk” soos mense dit geken het weer sal plaasvind. Hiermee bedoel ek dat honderde en duisende langs mekaar sal sit en mekaar se asems opsnuif. Ek dink nie so nie.
Less is better, het ek eens in die onderwys geleer. Los vir `n tydperk die massas video’s en sosiale media en besin oor die volgende.

- Beplan bepaalde tye van stil-word. Die Bybelse ure van gebed gedurende die dag was 09:00, 12:00 en 15:00
- Neem `n kort Skrifgedeelte – “Less is better”
- Bid dat die Heilige Gees, die Gees van die Waarheid, jou sal lei, wysheid en insig gee.
- Lees dit drie-maal stadig deur
- Watter frases of woorde tref jou – herhaal die frases en woorde
- Bepeins dit oor wat dit regtig vir jou beteken
- Hoe jy dit gaan toepas in jou lewe?
- Hoe gaan dit jou hele lewe verander?
- Skryf dit oor as `n gebed
- Memoriseer die Skrifgedeelte en hou aan om daaroor te peins deur die loop van die dag.
Hoe kan jy jouself nou reeds voorberei indien die lewe nie sal terugkeer na dit waaraan jy gewoond was nie? Ek is oortuig jy gaan my eendag bedank dat ek hierdie vraag gevra het.
Mag ons “me-time” terug kry en mag sosiale afstand fisies en digitaal gerespekteer word.
