COVIT-19 kom sit in jou kop

Maandag 23 Maart 2020

COVIT-19 kom sit in die longe, sê hulle. Op die oomblik maak dit in my kop nes. Dit slaan sy kloue in elke sel van die brein in en die neem alle gedagtes gevange. Dit is waar die stryd dikwels die moeilikste is. Wel, vir my is dit so.

In die nag as ek slaap, dryf die gedagtes rond. As ek wakker is, los dit my nie uit nie. Skakel ek die televisie aan, skiet my vinger uit na die kanaal waarop ek nog nuus kan kry. Die kanale bombardeer my en teiken die bewuste sowel as die onderbewuste. Daar is nie `n oomblik rus nie.

Daar is nie rus nie totdat ek besluit het om weer terug te keer na die Rus in my. Ek het gaan sit en weer my lewe en gedagtes aan die Here oorgegee. Dit is mos Augustinus wat gesê het: “Ek vind net rus wanneer ek rus vind in U”.   Is dit maklik? Nee, verseker is dit nie maklik nie. Dit is nie iets wat op die oomblik sommer net wil weggaan nie. Dit klou soos `n doring in die vlees, dis pynlik.

Wat van die ekonomie? Hoe gaan ons oorleef? Dit is werklike vrae en vraagstukke met moeilike antwoorde. Op die oomblik wil my hart sê dat ons die Here moet vertrou. My verstand sê dat ons maar moet wag en kyk. Ek moet erken dat die eerste keuse my meer rus gee.

Vandat ek my verstand het, het ons in geloof geleef. Hoekom sal dit nou anders wees? My ouers moes die Here vertrou. Sedert ek die onderwys in 1990 bedank het, het ek op `n “rollercoaster ride” beland waarvoor ek nie begroot het nie. Tussen daardie tyd wat ons in Stellenbosch gewoon het en nou hier in Centurion het die lewe van vertrou en leef in geloof my ingesuig tot op `n punt waar ek besef dat gesonde verstand my nie hier gebring het nie. As ek nie nou glo nie, sal my verstand en ongeloof my absoluut mal maak.

Om hierdie rede kan ek nie toelaat dat die omstandighede in my gedagtes nes maak nie. Dit is dan dat die radeloosheid en redeloosheid inwerking tree. “Here, ek neem nou elke gedagte in die Naam van Jesus gevange en ek onderwerp dit aan U”. So begin ek bid.

Ek gaan verder: “Here, hierdie hele situasie is buite my beheer. Ek weet nie wat om omtrent Covit-19, my eie gesondheid, dié van my gesin, familie, vriende en sommer die hele wêreld te doen nie. Ek weet ook nie wat om aan my finansies en lewensomstandighede te doen nie. Ek bid nou dat U Gees deur my sal bid”…. Op daardie oomblik begin ek bid in die taal wat ek ontvang het toe ek 17 jaar oud was. Ek het op my knieë gestaan tydens `n biduur vir Jode en Israel. Ek bid sonder om `n woord te verstaan. Ek bid met die geloof dat dit wel die Gees van God is wat nou bid wat op Vader se hart is soos in Romeine 8:26-27. Ek bid en sien Jesus voor die troon van Vader waar Hy vir my intree.

“Here, ek verstaan nie, maar ek vertrou U, bid ek aan die einde van hierdie gebed.

Hierna gaan sit ek vir ongeveer 20 minute net doodstil. Ek probeer om aan niks te dink nie. Wanneer my gedagtes begin dwaal, sê ek net: “Jesus, bid vir my”. Ek sien Hom dan in my gedagtes hoe Hy vir my bid. Ek sit dan net weer – gedagteloos tot die gedagtes my weer steur, dan weer “Jesus, bid vir my” en dan sit ek weer. Dit is die gebed van die Heilige Gees, die gebed van genesing.

Hierna sit ek `n oomblik: “Here, nou gee ek my lewe en gedagtes opnuut vir U. Neem besit van my hele lewe, o Gees van God. Dankie dat ek na U toe kan vlug en dat u altyd daar is vir my, Amen!”

Daar is nou rus wat alle verstand te bowe gaan, want die ding sit nie meer so vas in my kop nie.

[yikes-mailchimp form=”1″]