Morele hoë podiums

Sondagnag, 22 Maart 2020

Dit was nie `n goeie nag nie. Soveel gedagtes, soveel gestoei en wonder oor dit waarin die wêreld tans vasgevang is – COVIT-19. Skielik was die nag donkerder as tevore. Skielik was die bravade weg. Skielik wou ek die hele huis se ligte aanskakel om die boosheid van die donker te verdryf. Skielik was dit ek alleen met al my gedagtes en spoke. Dit was die stem wat my wakker gemaak het: “Klim af van jou morele hoë podium af”, het die stem vir my gesê. Dit het die slapeloosheid en onrustigheid ingelei.

In my worstelinge het ek besef dat ek nie van bo, van voor όf van agter na iemand in nood moet kom of iets sê nie. Nee, ek moet langs die persoon gaan sit wat op die oomblik paniekerig op moedverloor se vlakte kom kampeer het. Elkeen, vasgevang in `n donker gedagtewêreld.

Ek moet ophou om af te kyk asof ek verhewe is. Raak ontslae van wysneusigheid, geestelike hoogmoed, eie wysheid en veroordeling. “Klim af van jou podium af en kom sit langs my en voel my pyn, angs en verwarring”, hoor ek `n stem weer vir my sê. Die stem het nie `n gesig nie. Die stem resoneer net onsekerheid en pyn wat vloei vanuit die feit dat die persoon in verlies se oë sit en kyk en verlies se dreigemente hoor – oor en oor en oor.

“Here, in hierdie donker nag strek ek my hande uit na die hemel en wil genade probeer vasvat en dit aftrek aarde toe, hoor ek my eie gedagtes”. Dit is wat ek wil doen, maar hoe doen ek dit? Hoe verander ek Italië se absoluut benarde situasie. Ek kan nie eers verder dink aan ander lande nie. “Mense is in nood, Here”.

Ja, vanuit my hoë morele grondgebied kan ek mos nou sê dat sekere mense hulle verdiende loon kry as gevolg van hulle goddeloosheid, veral in Europa – dis mos hoe baie dit insien, soms in die onderbewuste, is dit nie? Oorsaak – gevolg is baie van ons se denkraamwerk.

“Nee, dis nie hoe dit gedoen word nie”, dink en verder. Die Iemand op die troon van Openbaring 4 het eens op `n tyd die hemelse heerlikheid verlaat en aan `n kruis kom sterf toe ek nog `n sondaar was, as ek reg verstaan. My lewenswyse en pogings om God te gehoorsaam plaas my nie op `n hoër trappie as die res van die menslike bestaan nie. Ek is in wese sondaar. Ek is in wese begenadigde sondaar. Ek is op dieselfde ou trappie. Dieselfde virus kan my ook aan my longe beetkry.

Nou sit baie moedeloos op die vuil en stowwerige sypaadjie van die huidige situasie. Hulle wonder seker wat die gemaskerde, gesiglose môre én die volgende dag én die volgende na hulle toe gaan aandra. Watter dreigemente gaan nog volg?

Watter emosies en gedagtes gaan nog uitpeul. My gedagtes maal verder. Kan ek met medelye ander se gedrag en emosies verdra terwyl ek met my eie worstel? Daar is so baie: angs, moedeloosheid, paniek, aggressie met gepaardgaande gedagtes: ek is bang, ek is onseker, ek wil nie nou siek word nie, ek wil nie nou doodgaan nie, los my net uit, virus gaan net weg, ek het nie krag om te glo nie, ek weet nie waar om hulp te kry nie, help my en vele meer.

Dit is dan dat ek ook my  klere van godsdienstigheid en veroordeling wil uittrek. Ek besluit om met net `n enkel [yikes-mailchimp form=”1″]lagie gedienstigheid en medelye langs my medereisiger op hierdie aarde neer te sak en in solidariteit die stof van die vuil stene te trotseer.

In my gedagtes sit ons daar. Ek met my arm om my medereisiger en probeer elkeen aanmoedig om op te staan en saam te stap na wie weet wat vir ons om die volgende hoek wag of die volgende dag vir ons voorlê.

Leave a Reply