Opstandingsondag en my leë woorde

Dit is Opstandingsondag, sê die kalender vanoggend toe ek wakker word. Op my foon is alreeds baie prentjies en teksversies en selfs een hoendervleis ritueel op video vasgevang.

Ek het my bydrae ook probeer lewer. Maar, pas nadat ek die “share” knoppie gedruk het, het vrae in my gedagtes begin maal. Ek het begin wonder hoe ek iemand kan bemoedig wat vanoggend in moeilike omstandighede en met donker emosies wakker geword het. Wat sê ek vir iemand wat sukkel om in die opstanding van Jesus te glo omdat hulle so seer het? Wat sê ek vanoggend vir iemand wat eerder soos Dawid in Psalm 22 met rou én seer of in eensaamheid én verlatenheid uitroep: “My God, my God waarom het U my verlaat?”.  Wat sê ek vir iemand wat glad nie eers in God glo nie?

Ja, ek weet dat ons as Christene goed bedoel en baie raad het en dikwels, ongevoelige raad het. Die ongevoeligheid volg nie uit die feit dat ons in wese ongevoelig is nie. Dit vloei maar net uit die manier hoe ons groot gemaak is – ons wil Jesus verdedig. Dit vloei uit wat ons dink die Christelike godsdiens, die Bybel en Skrifgedeeltes sou wou hê dat ons moet sê. Dit is mos wat ons geleer het en wat die regte antwoord is. Ons probeer ons bes om te motiveer of te bemoedig. Menige berader het goeie raad. Ons bedoel regtig goed en is opreg, soms ook opreg verkeerd, sê `n vriend eendag vir my.

Ek wonder maar net wat maak ek met iemand wie se seer so donker en groot is dat daar nie lig uit `n graf kan skyn nie. Nie vandag nie.

My gedagtes gaan uit na soveel mense wat wêreldwyd gesterf het. Vir my is dit statistieke, maar iewers in die wêreld sit `n familie met diepe rou oor `n geliefde wat alleen gesterf het en wie weet waar begrawe is. Ek voel toe weer die pyn van my broer wat dood is toe ek met my hele wese gehoop het dat hy sou leef. My gedagtes gaan toe verder, want iewers in die wêreld is kinders wat mishandel, misbruik en geboelie word. Iewers is `n pa of ma wie se kind die pad byster geraak het. Iewers is iemand wie se loopbaan, werk en besigheid vernietig is όf dreig om vernietig te word. Iewers is iemand tot die dood toe honger en dors. Iewers is iemand net so diep ontnugter of teleurgesteld.

Iewers….ja, iewers is persone wie se nood en seer soos `n blinddoek oor hulle emosionele en geestelike oë gespan is dat hulle nie eers die Bybel kan of wil lees nie. Iewers loop trane so aanhoudend dat dit nie opgedroog kan word nie. Trane laat enige beeld uit fokus raak. Trane is vandag `n realiteit.

Hier sit ek vandag hoog en droog en probeer dink wat ek vanoggend vir hierdie stukkende mense kan sê.

Ek hoor hoe mense al baie keer vir my gesê het: “Johan, ons bid vir jou!” Vanoggend is dit nie genoeg nie, maar ek kan niks anders doen nie. Dis `n magteloosheid wat oor my spoel, want vanoggend het baie nie behoefte aan my mening of woorde oor die Paasboodskap nie. Hulle het nie behoefte aan my weergawe van `n bebloede, magtelose Jesus aan `n kruis nie. Hulle het nie behoefte aan my hoendervleis mooi beskrywing van `n Jesus wat misterieus en bonatuurlik uit die dood uit opgewek is nie. Hulle seer keer dat hulle kan of wil hoor.

Dalk het hulle behoefte om Jesus se stem te hoor wat hulle op hulle naam roep, soos Hy Maria buite die graf op haar naam genoem het. Hulle het dalk meer behoefte dat die Heilige Gees van Handelinge 2 sal “opdaag”. Hulle het dalk behoefte dat die Jesus van Openbaring 1 sal opdaag met Sy gelaat wat so helder is soos die son wat op sy helderste is, wie se stem soos die gedruis van `n geweldige watermassa is wat sal inspreek in slegte omstandighede en swart, donker emosies sal genees. Miskien het hulle behoefte aan die Jesus van Openbaring 19 wat op Sy wit perd die weermag van die hemel en almal in hulle wit klere aanvoer. Iemand wat die donker boosheid van hulle desperate omstandighede sal verdryf. Miskien het hulle behoefte aan die werklike Jesus wat opgestaan het en nie behoefte aan ons menings of leë woorde nie – selfs my goedbedoelde leë woorde van vanoggend.

Dalk het hulle net behoefte aan deernis. Dalk net na iemand wat sal luister sonder om te probeer reghelp of preek.

Miskien is hierdie persone net so pap geslaan deur die lewe dat hulle maar net doelloos voor hulle uit staar. Wat beteken ek of doen ek vanoggend met my weergawe van `n boodskap vir hulle? Watter waarde en krag het my weergawe van die Paasboodskap regtig vir mense? Maak dit enige verskil behalwe om hulle vir `n oomblik emosionele verligting te gee of skuldig te laat voel, net om hulle weer na hulle eie omstandighede te laat terugkeer?

Vanoggend is my gedagtes in `n warboel oor die kragteloosheid van die Paasboodskap uit mense se monde en dade. Gelukkig sê die Skrif dat Jesus ook met my medelye het, al dink ek vanoggend dat die seer van die individue en die wêreld te groot is en ons boodskap te kragteloos en hulpeloos is en te maklik uit menslike monde vloei om mense se nood regtig te verlig.

Ek sit toe maar net stil, staar lank by die venster uit en lees Psalm 22 namens almal wat sukkel om te glo……daarna val my oog op Psalm 23…..

In my alleenheid en stilligheid hoop ek toe dat die ware boodskap van Paasfees in vandag se stukkende wêreld hoorbaar en sigbaar sal word – Al is dit maar net `n vrede wat alle verstand te bowe gaan.