Vader,
Ek seën my gesin in die naam van Jesus Christus en deur die werking van U Heilige Gees.
Soos Melgisedek, koning van Salem en priester van God die Allerhoogste, staan ek in geloof voor elkeen met brood en wyn. Ek seën hulle met U voorsiening. Ek staan ook voor hulle en seën hulle nou: 19“Mag my gesin soos Abram geseënd was deur God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde. 20 Ek loof U Here, God die Allerhoogste! U wat selfs hulle vyande in hul mag oorgee.” (Gen. 14:19-20)
Saam met Jabes roep ek tot U die God van Israel, ja, die God van U verbond, vir my gesin met die woorde: “Stort u seën oor my gesin uit, vergroot elkeen se grondgebied volgens U droom vir elkeen persoonlik, neem hulle onder u beskerming en weerhou onheil van hul sodat geen smart hul sal tref nie.”
Dankie Vader dat ek U Woord kan glo en hierdie beskerming en seën reeds kan ervaar want U Woord sê dat U laat gebeur het wat hy gevra het (1 Kon 4:10).
Ek loof U vir dit wat U nou vir elkeen van my gesin doen.
Ek seën my gesin ook met U vreugde en vrede: Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! (Rom. 15:13).
Ek loof U vir ongekende vreugde en vrede in my gesin, vrou en kinders se lewens.
Ek strek ook my hande uit na my gesin en seën hulle met hierdie woorde: 24 Die Here sal julle seën en julle beskerm; 25 die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; 26 die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!
U Woord sê dan ook verder: 27 So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.” (Num 6: 24 – 27).
Dankie HERE, dat U my gesin nou seën.
Dankie dat ek vandag weet dat elkeen van ons deur U leef, beweeg en bestaan (Hand 17:28)
Ek bid alles in die Naam van Jesus Christus.
Amen
